Central SA
Staat betaal glo dokter se regskoste in korrupsiesaak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:10 Tue, 13 May 2025

Die owerheid het na bewering meer as R6 miljoen aan regskoste bestee in die korrupsieverhoor van ’n Noord-Kaapse staatsdokter.
Dr. Dion Theys, voormalige hoof van die Noord-Kaapse departement van gesondheid, is in Augustus 2023 skuldig bevind aan die oortreding van artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur nadat hy onreëlmatig drie huurkontrakte vir verpleegstersverblyf onderteken het.
Theys is gevonnis tot R150 000 of drie jaar tronkstraf waarvan R100 000 of twee jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie in die tydperk ’n soortgelyke oortreding begaan nie. Die wetgewer het nooit amptelik die besluit goedgekeur dat die staat Theys se regskoste moet bestry nie, sê Harold McGluwa, Noord-Kaapse DA-leier.
Harold McGluwa. Foto DA
“Die DA doen dringend ’n beroep op die LUR vir gesondheid om te verseker dat die geld verhaal word.”
Volgens McGluwa behels Theys se regskoste R409 221,33 in verhoorvoorbereiding, R1 647 071,15 vir die verhoor self, R3 249 228,78 in hooggeregshofkoste en nog R998 323,30 in appèlkoste. Sy appèl is in Desember 2024 deur die hooggeregshof in Kimberley van die hand gewys.
Theys is ook in hegtenis geneem in verband met twee afsonderlike sake wat kontrakte vir persoonlike beskermende toerusting ter waarde van miljoene rande behels. Dié sake is in Desember van die hofrol geskrap, maar die NVG sê die aanklagte gaan weer ingestel word.
‘Nooit formeel die besluit goedgekeur het dat die staat die koste moet dra nie’
McGluwa sê in ’n parlementêre antwoord het, dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gesê Riaan Strydom, voormalige waarnemende departementshoof, het die besluit goedgekeur dat die provinsiale departement Theys se regskoste moet dek.
Motsoaledi het ook gesê dat die nasionale departement onder die indruk was dat die saak aan die wetgewer voorgelê is en dat ’n ooreenkoms aangegaan is dat as Theys die saak verloor, hy die fondse sou terugbetaal.
Die DA hou egter vol dat die wetgewer nooit formeel die besluit goedgekeur het dat die staat die koste moet dra nie.
‘Kan nie bekostig om misdadigers en hul onwettige aktiwiteite te beskerm nie’
“Die departement van gesondheid, wat nie eers sy maandelikse verpligtinge kan nakom nie, kan eenvoudig nie bekostig om misdadigers en hul onwettige aktiwiteite te beskerm nie,” sê McGluwa.
“Dit is tyd dat interne dissiplinêre stappe teen Theys geneem word, en dat hy die prys vir korrupsie betaal – en die geld terugbetaal.”
OFM Nuus het Lebogang Majaha, woordvoerder van die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement, om kommentaar genader.
OFM Nuus mvh