Central SA
Organisasie verwyder meer as 27 t vullis in Bloemfontein─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:18 Wed, 14 May 2025

Meer as 27 t vullis is in April deur ’n burgerlike organisasie in die Vrystaatse hoofstad verwyder nadat verskeie munisipale vullisvragmotors weer onklaar was.
AfriForum se Bloemfonteinse vullisverwyderingspan het tydens April ’n beduidende bydrae tot die stad gelewer deur ’n berg afval op te ruim, sê Christo Groenewald, AfriForum-distrikkoördineerder.
OFM Nuus het voorheen berig dat AfriForum gedurende Maart 26 t afval verwyder het omdat Mangaung-metro in Februarie nie vullisverwyderingsdienste gelewer het nie weens ’n dieseltekort. Gevolglik het AfriForum ingegryp en meer as 700 inwoners se vullis verwyder.
Kultuur van selfstandigheid
Groenewald sê hierdie diens, geheel en al gedryf deur die burgerlike samelewing, bied ’n volhoubare en betroubare alternatief te midde van die voortdurende agteruitgang van munisipaledienslewering. Ten spyte van die organisasies se pogings, moet tonne vullis steeds verwyder word, nadat Groenewald van ’n aansienlike agterstand in vullisverwydering dwarsoor die metro te hore gekom het.
LEES OOK: Meer Bloemfonteiners sê nee dankie vir metro se vullisverwydering
AfriForum se vullisverwydering is gestruktureer om saam te werk met gemeenskapslede, skole, meenthuiskomplekse en plaaslike ondernemings. Volgens Groenewald help hierdie vennootskappe om konsekwente, skoon en veilige woonbuurte te verseker, ongeag munisipale agterstande.
“Ons bied nie net ’n oplossing nie; ons bou ’n kultuur van selfstandigheid. En dit is ons lede en hul bydraes wat dit moontlik maak,” sê Groenewald.
“Hierdie voorval bewys verder hoe kwesbaar Bloemfonteiners is wanneer hulle uitsluitlik op die munisipaliteit vir basiese dienste moet staatmaak,” sê Groenewald. “Wanneer hierdie diens ineenstort of onderbreek word, hoop vullis op, wat ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko’s inhou.”
AfriForum sê die metro het ’n swak rekord van konsekwente dienslewering. Foto verskaf
“Bloemfontein-inwoners maak nie meer staat op munisipale vullisverwydering nie, gegewe die metro se swak rekord van konsekwente dienslewering. Gereelde vullisverwydering is van kritieke belang om openbare gesondheid en omgewingsveiligheid te beskerm.”
Volgens Groenewald het meer as 650 belastingbetalers in Mei verlede jaar aansoek gedoen om op te hou betaal vir ’n diens wat nie gelewer is nie. “Tot op hede het meer as 700 inwoners formeel vrystelling van die metro se vullisverwyderingskoste versoek.”
Volgens Groenwald wag hulle steeds vir terugvoer.
Foto verskaf
AfriForum het hierdie vrystellingsversoeke, saam met ’n finale aanmaningsbrief, op 31 Januarie by die metroraad ingedien.
“AfriForum se regspan het reeds ’n jaar tevore ’n finale aanmaningsbrief aan die metro uitgereik het in reaksie op die munisipaliteit se voortdurende versuim om vullisverwydering behoorlik te bestuur.”
Groenewald sê AfriForum moedig steeds inwoners wat nie meer van die metro se vullisverwydering wil staatmaak nie, aan om aansoek te doen vir kansellasie, wat hulle die vryheid gee om eerder private diensverskaffers te kies.
OFM Nuus mvh