On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Ondersoek kom ná Noordwes-rugbyspeler sterf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:06 Wed, 14 May 2025

Ondersoek kom ná Noordwes-rugbyspeler sterf | News Article
Vilano saam met sy ma, Lizelle. Foto verskaf

’n Ondersoek is aan die gang na die dood van ’n Noordwes-rugbyspeler wat noodlottig beseer is tydens ’n wedstryd.

Vilano Saunders (21) is in die Sebokeng-hospitaal oorlede nadat hy Saterdag 3 Mei beseer is.

Die familie soek nie finansiële vergoeding nie, sê Hennie Venter, hul woordvoerder, maar verlang ’n onafhanklike ondersoek na die omstandighede rondom Saunders se dood. Hulle eis antwoorde van die hospitaal sowel as die Noordwes-Universiteit (NWU).

Noordwes-rugbyspeler dood ná nekbesering   | News Article

Vilano Saunders. Foto verskaf

OFM Nuus het voorheen berig dat Saunders Maandag (5/5) oorlede is nadat hy ’n ernstige nekbesering opgedoen het tydens ’n wedstryd vir die NWU Eagles o. 21-rugbyspan op Vanderbijlpark. Die span val onder die administrasie van die Valke-rugbyunie.

“Hy het op ’n haker in die skrum geval en waarskynlik op nat gras gegly,” vertel Venter. Saunders het geen opleiding of ervaring gehad om die hakerposisie te speel nie. “Hy het nie eens geweet hoe om te bind nie.”

Venter is die pa van Saunders se meisie, Caitlin Venter (20). Die paartjie was ses jaar saam en het planne gehad om in China skool te gee.

‘Vyf minute voor die wedstryd instruksies gekry om as ’n haker te speel’

Saunders, ’n onderwysstudent, het by die Venter-gesin in Drie Riviere, Vereeniging, gewoon. Die familie het sedertdien ’n privaat lykskouing versoek en het aanvanklike stappe gedoen om strafregtelike klagte in te dien om te verstaan waarom Saunders dood is.

Volgens Venter het Saunders hom in die hospitaal vertel dat hy ’n “klapgeluid” gehoor het toe hy in die skrum geval het. “Daarna kon hy niks van sy nek af ondertoe voel nie.”

Saunders het ook vir Venter gesê dat hy “vyf minute voor die wedstryd” instruksies gekry het oor hoe om as ’n haker te speel.

Caitlin Venter en Vilano Saunders. Foto verskaf

’n CT-skandering wat later by die Midvaal- privaat hospitaal in Vereeniging uitgevoer is, het aan die lig gebring dat Saunders se vierde en vyfde nekwerwels verskuif het. Hy is daarna na die staatshospitaal in Sebokeng oorgeplaas omdat hy nie mediese hulp gehad het nie.

“Dit is die gevolg van soveel trauma. Ons is gebroke,” sê Venter. “Almal het Vilano in die steek gelaat … Ek ook, want ek was nie daardie dag daar nie. Die universiteit en sy afrigters het hom in die steek gelaat, en so ook die hospitale,” voeg hy by.

Venter en Caitlin was nie by die wedstryd teenwoordig nie, want hulle moes werk. Saunders word Donderdag (15/5) om 10:00 vanuit die MCC Meyerton Kerk begrawe.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.