Central SA
Diensverskaffer steeds op vrye voet in Vrystaatse munisipaliteit se behuisingsbedrogsaak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:16 Thu, 15 May 2025

Die diensverskaffer wat na bewering die kern van ’n behuisingsbedrogspul van miljoene rande in die Nala Plaaslike Munisipaliteit is, is nog nie in hegtenis geneem nie.
Drie munisipale amptenare sal Donderdag (15/5) in verband met die saak in die Bloemfonteinse-landdroshof verskyn, sê Lt. kol. Zweli Mohobeleli, Valke woordvoerder en voeg by at die inhegtenisneming van die kontrakteur op hande is.
Die verdagtes – ’n ontwikkelingsbeampte, ’n raadgewende ingenieur en ’n projekbestuurder – is Woensdag (14/5) in afsonderlike operasies in Bothaville, Welkom en Bloemfontein in hegtenis geneem. Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery wat verband hou met die wanbestuur van openbare fondse wat bedoel is vir die bou van laekostebehuising.
Die Valke neem verdagtes by die Nala munisipaliteit inhegtenis. Foto verskaf
Volgens Mohobeleli het die departement van menslike nedersettings in Mei 2021 ’n diensverskaffer aangestel om 47 fondamente in Bothaville te bou as deel van die eerste fase van ’n regeringsbehuisingsprojek. ’n Bedrag van meer as R1,1 miljoen is vir die werk betaal.
“Daar is is egter ontdek dat slegs 14 fondamente eintlik gebou is, ten spyte daarvan dat die volle betaling vir al 47 gemaak is. Hierdie teenstrydigheid het ’n korrupsie-ondersoek deur die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie-ondersoeke aan die gang gesit.”
Mohobeleli sê die ondersoek het bewyse aan die lig gebring wat daarop dui dat die diensverskaffer en die drie munisipale amptenare saamgesweer het om fakture op te blaas en voltooide werk verkeerd voor te stel. Gebaseer op hierdie bewyse het die vervolging lasbriewe vir die betrokke individue verkry.
Een van die verdagtes. Foto verskaf
“Die hofverrigtinge sal na verwagting later voortduur namate die ondersoek verdiep en die Valke die oorblywende verdagte in hegtenis neem.” Mohobeleli wil die publiek aanspoor om na vore te kom met enige bykomende inligting rakende korrupsie in munisipale projekte.
“Die stryd teen korrupsie in die lewering van openbare infrastruktuur bly ’n topprioriteit,” sê Mohobeleli. “Ons sal voortgaan om beslissend op te tree waar daar bewyse is van kriminele gedrag wat openbare fondse betrek.”
Sy sê die saak het weereens ernstige kommer uitgelig oor aanspreeklikheid en toesig in plaaslike regeringsbesteding, veral in kritieke sektore soos behuising.
OFM Nuus mvh