On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Inwoners van Kimberley moet regmaak vir vyf dae sonder water

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:23 Fri, 16 May 2025

Inwoners van Kimberley moet regmaak vir vyf dae sonder water | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Die Noord-Kaap se grootste munisipaliteit gaan watertoevoer na inwoners vir vyf dae afsluit om verskeie lekkasies te herstel.

Die vorige groot herstelwerk aan die waternetwerk is in April verlede jaar uitgevoer. 

Dié keer gaan Sol Plaatje-munisipaliteit die krane toedraai van Donderdag 29 Mei om 18:00 tot Dinsdag 3 Junie om 18:00. Gedurende hierdie tydperk sal ’n reeks noodsaaklike herstelwerk en onderhoud aan die munisipaliteit se waterinfrastruktuur uitgevoer word, sê Thabo Mothibi, munisipale kommunikasiebestuurder.

Toewysing van R2,5 miljard

“Sestien lekkasies sal herstel word en onderhoudswerk sal aan die 600 mm- en 900 mm-deursnee pyplyne onderneem word, tesame met die installering van nuwe kleppe om die stelsel se betroubaarheid en funksionaliteit te verbeter.”

Volgens Mothibi maak die projek deel uit van ’n breër poging om die munisipaliteit se waternetwerk op te gradeer, moontlik gemaak deur ’n toewysing van R2,5 miljard. “Hierdie geld word gebruik om waterverliese te verminder, die watergehalte te verbeter en inkomste te verhoog – wat langtermyn toegang tot skoon water vir inwoners verseker.”

‘Meer opdaterings sal in die komende week gedeel word’

Inwoners word aangeraai om die nodige reëlings te tref om voldoende water voor die geskeduleerde onderbreking op te gaar. “Die munisipaliteit verseker dat alle pogings aangewend sal word om die werk doeltreffend af te handel en ontwrigtings tot die minimum te beperk.

“Meer opdaterings sal in die komende week gedeel word soos bykomende besonderhede oor die projek beskikbaar word,” sê Mothibi. Vir nóg inligting word inwoners aangemoedig om ingelig te bly deur die munisipaliteit se kommunikasiekanale.

“Die munisipaliteit waardeer u samewerking aangesien hierdie opgraderings aangebring word om die langtermynwatervoorsiening te verbeter,” sê Mothibi.

Wenke om voor te berei:

  • Bêre ongeveer 5 L water per persoon per dag vir drink, kook en basiese higiëne.
  • Berei maaltye vooraf voor met bestanddele wat minimale water verg vir kook en skoonmaak. Hou ’n voorraad niebederfbare voedsel wat nie verkoeling of kook nodig het nie.
  • Gebruik weggooibare papierborde en plastiese eetgerei om die behoefte aan skottelgoedwas te verminder.
  • Verseker ’n voldoende voorraad water vir troeteldiere, insluitend honde, katte en ander diere.
  • Skakel waterafhanklike toestelle soos geisers, sproeiers en wasmasjiene af om skade te voorkom.
  • Spoel toilette slegs wanneer nodig. Gebruik ’n emmer water om te spoel in plaas daarvan om op die tenk staat te maak.
  • Gebruik ontsmettingsmiddel om hande mee skoon te maak en oorweeg wegspoelbare doekies vir persoonlike higiëne.
  • Vul skoon houers soos emmers, kruike en baddens met water vir latere gebruik.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.