On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Klerksdorp: Munisipaliteit gaan nie meer WhatsApp vir kennisgewings gebruik

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:55 Sat, 17 May 2025

Klerksdorp: Munisipaliteit gaan nie meer WhatsApp vir kennisgewings gebruik | News Article
Kennisgewings gaan nie meer op Whatspp gestuur word nie. Foto verskaf

‘n Noordwes-munisipaliteit erken dat dit nie aanvaarbaar is om WhatsApp vir amptelike kennisgewings te gebruik nie en gaan behoorlike kommunikasiekanale gebruik.

Die Matlosana-munisipaliteit het vandeesweek gereageer op AfriForum se beswaar dat WhatsApp-kennisgewings nie die amptelike kommunikasiekanale vir die kennisgewing van munisipale aangeleenthede kan vervang nie, sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

’n Herrie het losgebars oor dié munisipaliteit se gebruik van WhatsApp as kennisgewing van ’n amptelike vergadering wat as deel van ’n openbare deelname proses gehou is. “AfriForum se Klerksdorp-tak het kapsie gemaak daarteen in ’n brief aan die munisipale bestuurder en beklemtoon dat dié kommunikasie nie voldoen aan die vereistes van die Plaaslike Regering: Munisipale Stelselswet 32 van 2000 nie,” sê Pretorius.

‘In ’n plaaslike koerant gepubliseer word’ 

“Die wet vereis dat kennisgewings van dié aard in ’n plaaslike koerant gepubliseer word, by munisipale kantore vertoon word en waar van toepassing in die provinsiale koerant gepubliseer moet word.”

Sy sê ’n kennisgewing van die vergadering oor die mediumtermyninkomste- en uitgawesraamwerk (MTREF) is oorspronklik op 11 April in die Klerksdorp Rekord gepubliseer.

“Op die dag van die beplande vergadering (14 April), is die kennisgewing egter skielik as ‘uitgestel’ gemerk sonder enige amptelike opvolgkommunikasie aan die publiek, soos die wet vereis nie. ’n Alternatiewe kennisgewing is slegs enkele dae voor die gewysigde vergaderingdatum van 7 Mei via WhatsApp gesirkuleer. Ten spyte van die gebrekkige kommunikasie, het die vergadering voortgegaan.”

‘Hierdie kanale kan nie amptelike kanale vervang nie’

Volgens Pretorius het die munisipaliteit in hul reaksie erken dat dit belangrik is om aan die betrokke wetgewing te voldoen en aangevoer dat aangesien die oorspronklike kennisgewing wel soos voorgeskryf in die plaaslike media gepubliseer was, die daaropvolgende kommunikasie via WhatsApp en Facebook as aanvullende kommunikasiekanale ingespan is om ’n breër gehoor te bereik. Die munisipaliteit het egter erken dat hierdie kanale nie die amptelike publikasiekanale kan vervang nie.

“Om die geskil uit die weg te ruim, het die munisipaliteit beloof om nog ’n openbare vergadering oor die MTREF te hou en dat volledige besonderhede daaroor in ’n plaaslike koerant en op die nodige amptelike platforms gepubliseer sal word om betrokkenheid van belanghebbendes te verseker.”

AfriForum en die munisipaliteit het hul verbintenis tot deursigtigheid, inklusiewe bestuur en die handhawing van demokratiese beginsels herbevestig. “Die munisipaliteit het die publiek verseker dat toekomstige kennisgewings streng volgens die wetlike vereistes hanteer sal word om betekenisvolle gemeenskapsdeelname te verseker.”

‘Noodsaaklik vir demokratiese bestuur’

Frans Roos van AfriForum se Klerksdorp-tak sê doeltreffende openbare deelname is noodsaaklik vir demokratiese bestuur, die bevordering van vertroue tussen munisipaliteite en hul gemeenskappe en om te verseker dat besluite die behoeftes en sienings van die mense weerspieël,

“Die feit dat die munisipaliteit AfriForum in hierdie kwessie gelyk gegee het, is ´n oorwinning in die belang van die gemeenskap. Ons is dankbaar dat hulle ingesien het dat hul optrede nie reg was nie en ons sal as burgerregtewaghond toesien dat hulle wel hul beloftes rakende die proses nakom. Die gemeenskap van Klerksdorp en die res van die munisipaliteit het nou die geleentheid om aan hierdie proses deel te neem en moet die kans aangryp en hul stem by die volgende vergadering laat hoor,” sê Pretorius.

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.