Central SA
Soldate van Grensoorlog op Vanderbijl in herinnering geroep─── 10:41 Wed, 21 May 2025

Die Sandy Shellhole van ‘The Memorable Order of Tin Hats (Moths)’ op Vanderbijlpark gaan op 25 Mei makkers wat aan die 23-jarige Grensoorlog deelgeneem en gesterf het, in herinnering roep.
Die Border Boys Parade, wat om 10:30 by Sandy Shellhole begin, sal ook veterane van ander oorloë huldig.
Eddie Hall, “Samajoor” van Sandy Shellhole, sê die parade is al jare lank in Mei ’n instelling en die program is deeglik beplan. Deelnemers aan die dagprogram is motorfietsers, familie van soldate, van wie ál minder nog leef om self daar te wees, die Boy Scouts, militêre lede en belanghebbendes, die publiek en die Orion Voortrekkerkommando van Vanderbijlpark.
Die program sluit ook ’n praatjie in deur ’n gasspreker, die Sunset Call deur ’n beuelspeler, ’n minuut lange stilte, ’n Reveille (herinnering aan die klanke waarmee soldate wakker gemaak is), die stryk van die vlag en ’n kranslegging.
Ná al die formaliteite gaan daar gesellig om die braaivleisvure gekuier word waar mense oorlogsherinneringe kan deel.
Veldmaarskalk Jan Smuts by ‘n byeenkoms van die Memorable Order of Tin Hats (MOTH). Op die foto kan die Brodie Helmet ‘Tin Hat’ gesien word met die kers van herinnering. Let ook op die ou ‘Tin Hat’ lapelpen op Smuts se linkerlapel net regs van sy linte. Daar was ‘n Jan Smuts Shellhole in die Kaapprovinsie. Foto verskaf
“Dit sal weer ’n dag van diep emosies wees,” sê Ladd. “Ons ervaring is dat selfs kleinkinders graag kom om die lewe van ’n oupa te gedenk wat aan die Grensoorlog deelgeneem het.
“Sandy Shellhole is nog baie aktief en daar is landwyd nog talle shellholes wat ook herinneringsdae aan oorloë herdenk.”
Die Moth-beweging het sy ontstaan in 1927 in Pietermaritzburg gehad toe Charles Alfred Evenden en ’n vriend, R.J. Kingston Russell, wat redakteur van The Natal Mercury was, na ’n oorlogsfilm gekyk het.
Evenden het toe ’n strokiesprent van herinnering geteken – ’n blikhelm wat deur ’n brandende kers oorheers word. Om die vlamme van die kers was ses woorde: “True Comradeship, Mutual Help, Sound Memory.”
Memorable Order of the Tin Hat (MOTH) lapelkenteken. Foto verskaf
Ladd sê dit het die inspirasie van ’n merkwaardige organisasie geword. Dit het uit duisende lede bestaan van deelnemers aan die Anglo-Boereoorlog en albei wêreldoorloë.
Later het die Suid-Afrikaanse Grensoorlog ook prominent geword by die Moths. Shellholes (of bomgatte, soos soms in Afrikaans daarna verwys word) is landwyd begin.
Jacques Cronjé en ’n besoeker van een van die ander Shellholes in die Vrystaat/Noordkaap-streek. Foto verskaf
Moths het ook internasionaal gegroei met Shellholes in Iran, Malawië, Namibië, Zambië, Zimbabwe, en ander lande. Daar is selfs ’n Shellhole in Taiwan.
“Die Moths wat aktief is in al die provinsies in Suid-Afrika is daarop toegespits om oorlogmakkers te help. Hulle help mekaar finansieel indien nodig en staan mekaar ook emosioneel by.
“Die Grensoorlog het diep letsels gelaat en die impak word steeds onthou. Vir oudsoldate sal daar altyd vrae wees. Hoekom was daar oorlog? Hoekom moes my maat langs my sterf?
“Dit is ’n lewenslange proses om oorlog te oorkom, nie net vir die veteraan wat betrokke was nie, maar ook vir sy vriende en familie. Deur saam te staan en mekaar te help kan mense deur oorlogstrauma werk.
Samajoor Eddie Hall van die Sandy Shellhole. Foto verskaf
“Die Moths bied só ’n heenkome en skep geleenthede vir herinneringe. Elke Shellhole is ’n klein museumpie op sy eie met herinneringsgoed van deelnemers aan ’n oorlog.”
Die Moths se hoofkantoor is in Durban, waar ook een van die merkwaardigste museums is. Lede van die Moths streef altyd daarna om mekaar te help en daar is selfs goedkoop behuising soos kothuise en aftreeplekke om medemakkers te help by sekere Shellholes in die land.
John van Heerden van die Sandy Shellhole in Vanderbijlpark. Foto verskaf
“’n Moth-lid vra nie wat kan die beweging vir mý doen nie, maar wat kan ék vir die Moths doen en beteken. Donasies is die hoofinkomste.”
Ladd sê hy vertrou en weet die Border Boys Parade gaan weer eens ’n besonderse dag wees en almal van heinde en ver is welkom.
Maarten van Helden (Orion Voortrekkerkommando). Foto verskaf
Nog ’n groep wat die Border Boys Parade die derde jaar gaan bywoon, is Orion Voortrekkerkommando van Vanderbijlpark. Andries Visagie, een van die offisiere, gaan sy gr. 10’s Sondag na die parade neem.
“Ons as Voortrekkers, soos die Moths, is ’n diensorganisasie. Ons voel ook sterk daaroor om kinders bloot te stel aan sulke geleenthede sodat hulle kan besef dat daar mense was wat hulle lewens aan die saak van oorlog gegee en verloor het.
Jong lede van Orion Voortrekkerkommando tydens die geleentheid in 2023. Foto verskaf
“Ons huldig alle veterane wat in ’n oorlog gesterf het en wil graag ’n krans lê as gemeenskaplike deelname. Dit is belangrik dat ons kinders meer van die geskiedenis moet weet.
“Die Grensoorlog was waarskynlik die stiefkind van oorloë veral omdat die oorlog nie gewen is nie.
Offisiere en jeuglede van Orion Voortrekkerkommando tydens die geleentheid in 2024. Foto verskaf
“Maar ons eer en respekteer veterane wat diensplig in opdrag van die landsowerheid gedoen het en waarvan sommige die hoogste prys betaal het.
“Ons sien uit na die geleentheid.”