Central SA
Noord-Kaapse verdagtes in hof oor dwelms, Immigrasiewet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:09 Wed, 21 May 2025

Vier verdagtes van die Noord-Kaap sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte wat verband hou met dwelmmisdade en oortreding van die Immigrasiewet.
Die Noord-Kaapse Operasie Vala Umgodi MAJOC-span, wat ter ondersteuning van die ZF Mgcawu-distrik werk, het ‘n reeks suksesvolle inhegtenisnemings uitgevoer tydens ’n geïntegreerde operasie Maandag (19/5) in die Postmasburg-gebied, sê sers. Timothy Sam, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Die operasie is in samewerking met sekuriteitspanne van die Beeshoek- en Kolomela-myn uitgevoer, wat gelei het tot die inhegtenisneming van die twee buitelandse burgers (25 en 32). Hulle is aangehou deur amptenare van die departement van binnelandse sake se immigrasiedienste.”
Die operasie is in samewerking met sekuriteitspanne van die Beeshoek- en Kolomela-myn uitgevoer. Foto verskaf
Daarbenewens is twee Suid-Afrikaanse burgers (26 en 36) in hegtenis geneem vir dwelmverwante oortredings. Volgens Sam was die operasie toegspits op die bekamping van misdaad op en om die Postmasburg-stortingsterrein, wat ook gekoppel word aan onlangse voorvalle van kabeldiefstal, wat nabygeleë mynboubedrywighede raak.
Hy sê verskeie onwettige strukture is tydens die operasie afgebreek. ’n Vrou en haar vyf kinders is na die departement van maatskaplike ontwikkeling verwys vir ondersteuning en verdere sorg.
Alle verdagtes sal na verwagting binnekort in die Postmasburgse landdroshof verskyn.
Foto verskaf
Volgens die 2022-sensus was Suid-Afrika se totale bevolking ongeveer 62 miljoen, van wie ongeveer 2,4 miljoen mense (sowat 3,9%) wat as internasionale migrante geïdentifiseer is.
Hoewel gedetailleerde provinsiale ontledings vir buitelanders beperk is, kan benaderde syfers vir Noordwes, die Vrystaat en Noord-Kaap afgelei word gegrond op hul aandeel van die nasionale bevolking en migrasiepatrone.
Daar is ongeveer 316 916 buitelandse inwoners in Sentraal-SA. Foto verskaf
Volgens die sensus het Noordwes, die Vrystaat en Noord-Kaap gesamentlik ongeveer 316 916 buitelands-gebore inwoners het.
Terwyl Gauteng en die Wes-Kaap die primêre bestemmings vir internasionale migrante is, ervaar ander provinsies soos Noordwes, die Vrystaat en Noord-Kaap ook positiewe netto migrasie, wat dui op ’n toestroming van inwoners uit ander provinsies en lande.
OFM Nuus mvh