Click on the warning image to view this post
Central SA
Klerksdorper kritiek ná aanval─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:26 Wed, 21 May 2025
’n Geldinsameling is begin vir ’n man van Noordwes wat in die hospitaal opgeneem is met bloeding op die brein ná ’n aanranding.
Michael Deysel is na bewering Saterdagaand (17/5) deur sy eksmeisie en haar kêrel aangeval. Hy is nou in ’n kritieke maar stabiele toestand in die Tshepong Tersiêre Staatshospitaal in Klerksdorp, sê Bonita van der Westhuizen, sy werkgewer.
Deysel, ’n kelner by ’n plaaslike restaurant, is tans sonder ’n inkomste en daarom het Van der Westhuizen die geldinsameling begin om sy lewenskoste te dek, aangesien sy huur binnekort betaal moet word. Volgens ’n ooggetuie het die voorval omstreeks 23:15 plaasgevind.
Die verdagtes het die ooggetuie glo hoor skree en weggejaag. Foto verskaf
“Ek het ’n geskreeu, gevloek en toe ’n harde geluid gehoor wat my vrou gesê het soos ’n geweerskoot geklink het. Ek het buitentoe gehardloop om te sien wat aangaan en het ’n man gesien wat iemand – later geïdentifiseer as Michael – oor die teerpad sleep.
“Ek het dadelik vir my vrou geskree om die polisie te bel.”
Die ooggetuie sê die verdagtes het hom gehoor skree, waarna hulle hom op die sypaadjie gelos het. “Hulle het na ’n motor gehardloop en weggejaag voordat ek hulle kon keer.”
Michael Deysel. Foto verskaf
Hy sê Deysel het hewig gebloei weens kopbeserings. “My vrou het komberse gebring, en ons het dit gebruik om die bloeding te probeer keer. Ons het die polisie omstreeks 23:20 gebel, maar hulle het eers om 23:45 opgedaag – maar geen hulp aangebied nie.”
Die ooggetuie het Deysel se foon gesoek om sy familie te bel, maar kon dit nie kry nie. “Ek is terug na die toneel en het dit opgespoor, waarna ek sy pa probeer bel het, maar ek kon hom nie in die hande kry nie.”
Michael Deysel is glo op die teerpad gesleep. Foto verskaf
Hy het toe ’n vriend van Deysel gebel wat hom hospitaal toe geneem het. Volgens die getuie het die ambulans eers opgedaag nadat hy omstreeks 02:00 van die hospitaal af teruggekom het.
Van der Westhuizen, wat Deysel gereeld besoek, sê sy gesig is erg geswel. “Dit lyk nie eens soos hy nie. Sy hele liggaam is gevoelloos van die verdowing.”
Wat die aanranding betref, sê sy: “Jy behandel nie eers ’n wilde dier so nie. Ek kan my nie die pyn voorstel wat hy deurgemaak het nie.”
'n Saak van poging tot moord word ondersoek. Foto verskaf
Sy glo geregtigheid sal seëvier. “Dankie vir almal se besorgdheid … Daar is baie wat omgee, en vir nou hou ons vas aan geloof.”
Van der Westhuizen het die saak by die polisie aangemeld, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. Volgens Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, word ’n saak van poging tot moord ondersoek.
Die name van die twee vermeende aanranders is aan OFM Nuus bekend. Intussen is bevestig Deysel se eksmeisie verwag sy kind.