Central SA
Plaasaanval: Bejaarde Vrystaatse boer ná byna nege jaar vervolg─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:33 Wed, 21 May 2025

’n Bejaarde Vrystaatse boer is op borgtog vrygelaat en sal na verwagting weer Donderdag (29/5) in die hof op aanklag van moord weens wat beskryf word as ’n poging tot roof.
Carl Christian Gutter (78), ’n boer van Brandfort, het Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van die moord op Sonnyboy Segalo, ook van Brandfort, sê lt. kol. Zweli Mohobeleli, Valke-woordvoerder.
Gutter is borgtog van R2 000 toegestaan, en die saak is uitgestel vir oordrag na die Brandfort-streekhof. Die aanklag hou verband met ’n voorval op 29 Augustus 2016 op Gutter se plaas, Palmietfontein, distrik Brandfort.
Carl Christian Gutter is glo aangeval. Foto verskaf
Volgens Mohobeleli is die polisie na die toneel ontbied nadat ’n plaasaanval aangemeld is. “Met hul aankoms het hulle vier verdagtes gevind wat deur plaaslike boere en plaaswerkers aangehou is.
“Onder hulle was Segalo, wat met sy gesig na onder met ’n koeëlwond in sy rug gevind is.” Twee vuurwapen is tydens die ondersoek naby die toneel teruggevind en vir ballistiese toetse gestuur.
Mohobeleli sê Segalo het ure later aan sy beserings beswyk. “Hoewel hy en die ander aanvanklik van poging tot roof beskuldig is, is die drie medebeskuldigdes uiteindelik vrygespreek.”
Arm van die gereg is lank
Niemand is vir sy moord in hegtenis geneem nie. Nadat ’n formele geregtelike doodsondersoek in Julie 2024 deur die Brandfort-landdroshof geopen is, het die hof se bevindinge, wat in Maart uitgereik is, gelei tot die bevel vir Gutter se inhegtenisneming op ’n moordaanklag.
Genl. maj. Mokgadi Bokaba, Vrystaatse Valke-hoof, het die ondersoek- en aanklaerspan geprys vir hul volharding.
Carl Christian Gutter word ná nege jaar vervolg. Foto verskaf
“Die inhegtenisneming is ’n bewys dat die arm van die gereg inderdaad lank is. Hoewel dit mag lyk asof ons aanvanklik ’n doodloopstraat bereik het, kan nuwe bewyse altyd na vore kom, wat die ondersoek laat herleef.
“Dit sal die oorledene nie terugbring nie, maar dit gee die familie van Sonnyboy Segalo ’n kans op afsluiting en geregtigheid.”
OFM Nuus mvh