Central SA
Petisie aan Noordwes-munisipaliteit oorhandig oor infrastruktuur, dienslewering─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:07 Thu, 22 May 2025

Hoewel ’n Noordwes-munisipaliteit nog nie terugvoer gegee het nadat ’n petisie Dinsdag (20/5) aan die burgemeester oorhandig is oor die verval van infrastruktuur en diensleweringskwessies nie, het ’n paar belangrike ontwikkelings plaasgevind.
Michal Groenewald, die VF Plus se provinsiale leier en self ’n inwoner van Stilfontein, het die petisie aan die burgemeester van Matlosana-munisipaliteit, Fikile Mahlope, oorhandig.
“Die Zandpan-rioolpomp, wat langer as drie weke buite werking was, is nou vervang. ’n Sinkgatrehabilitasieprojek is ook begin en sal na verwagting volgende week begin,” sê Pieter du Preez, VF Plus-raadslid.
“Daarbenewens word die stilstaande Laaibaai-projek, wat die eerste keer in 2017 van stapel gestuur is, maar geen vordering getoon het nie, uiteindelik hersien met die hulp van die munisipale bestuurder.
Pieter du Preez. Foto verskaf
“Die oorhandiging van die petisie het deel gevorm van die wetlik voorgeskrewe openbare deelnameproses oor die opstel van ’n begroting vir die komende finansiële jaar. Of die petisie wel gaan werk, sal ons eers kan sien met die nuwe begroting en dan of die begroting omgesit gaan word in aksie.”
Volgens Du Preez is die petisie deur 2 127 huishoudings op Stilfontein onderteken. “Dít onderskei hierdie petisie van die gewone klagskrifte en data-insamelingsgeskrifte wat partye en belangegroepe van tyd tot tyd aan die plaaslike owerheid oorhandig.”
Prioritisering van begrotingsitems
Hy sê die burgemeester het hierdie aspek ook tydens die oorhandiging beklemtoon en onderneem dat die inhoud deeglik in ag geneem sal word in die prioritisering van begrotingsitems in die nuwe konsepbegroting.
“Die VF Plus eis in die petisie dat die herstel van padinfrastruktuur en die verval van riool- en stormwaterinfrastruktuur dringend gedoen moet word. Sommige strate het in só ’n mate verval dat dit heeltemal oorgebou moet word. Die oorvloei van riool in die strate kom ook gereeld voor.”
Michal Groenewald. Foto verskaf
Hy sê die verstopping van die stormwaterstelsels het selfs daartoe gelei dat die aangrensende N12-hoofweg oorspoel en swaar verkeer deur die dorp herlei moes word.
“Verdere eise is dat daar dringend aandag gegee moet word aan die skoonmaak van toegegroeide oop ruimtes wat ’n veiligheidsrisiko vir inwoners inhou, en dat straatligte dringend vervang moet word om inwoners se veiligheid snags te verbeter.”
OFM Nuus cg