Central SA
Noord-Kaapse veedief se vonnis verwelkom─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:29 Thu, 22 May 2025

Die vonnisoplegging van ’n Noord-Kapenaar vir duisende rande se veediefstal word verwelkom.
Die polisie se bestuur in die distrik Pixley Ka-Seme is ingenome met die drie jaar tronkstraf wat Hendrik Williams (45) Dinsdag (20/5) in die Richmondse landdroshof opgelê, sê sers. Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.
Williams is op 7 Junie verlede jaar in hegtenis geneem nadat die polisie laat weet is van ’n veediefstal waarin twee merino’s van R6 000 op die plaas Potkraal in die distrik Richmond voete gekry het. Die ondersoek is toegewys aan sers. Winston Jullies van De Aar se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies.
Sers. Winston Jullies van De Aar se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies. Foto verskaf
Ná verdere ondersoek het hy inligting ontvang oor ’n manlike verdagte wat vermoedelik vleis verkoop.“Die perseel waar die vleis na bewering verkoop was, is geïdentifiseer en deursoek,” sê Shamane.
“Williams het voldoen aan die beskrywing wat aan die polisie verskaf is, en is betrap met die vleis, wat hom later met die misdaadtoneel verbind het.”
Williams was sedertdien sy inhegtenisneming in aanhouding.
Nasionale aanmeldingstelsel
Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) en ander landbouorganisasies werk saam met die polisie en Agri Ops om veediefstal te bekamp deur middel van ’n nasionale aanmeldingstelsel vir veediefstal.
Die Earth Ranger-platform hanteer en verwerk inligting wat verskaf word om te verseker dat alle besonderhede van deelnemende boere vertroulik gehou word in ooreenstemming met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, sê dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die RPO.
Hoewel die platform sonder die polisie bedryf word, werk die RPO nou saam met die polisie vir die uitvoering daarvan.
Hoe werk die KI-stelsel?
Agt stappe word tydens aanmelding uitgevoer, waarvan die eerste vyf verpligtend is:
- Verskaf jou naam en kontakbesonderhede;
- Dui aan in watter provinsie die voorval plaasgevind het;
- Verstrek die distrik se naam;
- Meld dit by jou naaste polisiekantoor aan;
- Beskryf die tipe veediefstal en gee ook ander belangrike besonderhede;
- Verskaf die GPS-ligging waar die voorval plaasgevind het in die volgende drie stappe;
- Gee spesifieke besonderhede oor hoe die diefstal uitgevoer is; en
- Gee enige ander tersaaklike inligting.
Die RPO beklemtoon dat hierdie stelsel nie net help om veediefstal vinniger aan te meld nie, dit skep ook ’n waardevolle databasis vir wetstoepassingsagentskappe. Die doel is om die polisie te ondersteun in hul ondersoeke en om misdaadtendense beter te verstaan.
Boere en inwoners kan enige veediefstal of verwante misdaad onmiddellik per WhatsApp by 071 515 2011 aanmeld.
OFM Nuus mvh