Central SA
Blinde sanger wil teruggee aan sy ou Bloemfonteinse tuiste─── 14:48 Thu, 22 May 2025

’n Blinde sanger van Bloemfontein tree oor twee weke saam met die sanger Jannie du Toit op om te help om die Jean Webber-tehuis vir gestremdes se deure oop te hou.
Riaan Naudé, wat die sosialemediaduime oortyd laat werk het met sy weergawes van onder meer “Amazing Grace”, het ’n spesiale verbintenis met dié huis: Hy het self ’n ruk lank daar gewoon.
Hy vertel sy vrou, Nadia, was een van die arbeidsterapeute wat daar gewerk het, “en tegnies gesproke mag ons nie ’n verhouding aangeknoop het nie – daar is mos iets soos professionele afstand. Maar ons het ons nie daaraan gesteur nie,” lag hy. “Ons is al sewentien jaar getroud, en sy is my engel.”
Volgens Naudé, wat al vyf gospelalbums uitgereik het, is dit vir hom lekker om terug te gee. “Die lewe was goed vir my. Die tehuis was goed vir my.’’
Jannie du Toit. Foto verskaf
Du Toit het ’n paar van sy musiekvriende nader gehark om jaarlikse konserte op verskillende plekke landwyd vir gestremdes aan te bied.
“Die konserte in Pretoria en Johannesburg was baie suksesvol, maar ek sien veral uit na die konsert in Bloemfontein, want ek gaan die verhoog met ’n gestremde kunstenaar deel,’’ sê Du Toit. “Ek het al saam met gestremdes gesing, maar omdat Riaan nou bande met die tehuis het. is dit baie spesiaal.’’
Dié konsert word spesifiek vir die Jean Webber-tehuis aangebied, wat 42 mense met baie ernstige gestremdhede huisves.
Jannie du Toit. Foto verskaf
Ná die Covid-19-pandemie het dit broekskeur gegaan om die tehuis se deure oop te hou. Die publiek se skenkings en donasies het begin opdroog en die Vrystaatse departemente van maatskaplike dienste en gesondheid se toelae kom ook drupgewys in, vertel Therina Wentzel, direkteur van die Nasionale Raad vir Liggaamlik Gestremdes in Suid-Afrika.
“Die departement van maatskaplike ontwikkeling is ook al twee maande agterstallig met hul betalings, maar op een of ander manier kon ons nog daarin slaag – met die hulp van kettingwinkels en ander besighede – om die tehuis se deure oop te hou.’’
Die tehuis is verlede jaar deur ernstige geldprobleme in die gesig gestaar nadat die departement van maatskaplike ontwikkeling vir maande nie staatsubsidies oorbetaal het nie. Sowat 29 van die versorgers het glo twee maande nie hul salaris gekry nie.
“Dit kos sowat R8 000 per maand om net één van inwoners te versorg. Van die inwoners kry ’n ongeskiktheidstoelaag en betaal die helfte daarvan oor aan die tehuis, maar dit is steeds nie genoeg om die dag-tot-dag koste te dek nie.’’
Personeel van APD en inwoners van Jean Webber – heel regs voor is Nthabiseng Molongwana (huidige Direkteur van APD Vrystaat) met Therina Wentzel (destyds die Direkteur daar, nou Nasionale Direkteur.) Foto verskaf
Volgens Wentzel, wat al ’n lang pad saam met die tehuis stap, bied die tehuis ’n veilige hawe vir onder andere kwadrupleë, beroerte-oorlewendes, individue met serebrale gestremdheid, veelvuldige sklerose en ander gestremdhede.
Wentzel sê dat hulle verskeie projekte waaronder die Loslitdagp-projek en opleiding in gestremdheidgelykhede. “Ons wil nie bakhand staan nie en dit is ook waarom ons besluit het om die konsert aan te bied.’’
Anton Esterhuyse, Ella Kotze, Martinette Spoelstra, tjellis Kornelia von Eschwege en fluitspeler Annelie du Plessis-Hoberg is ook saam met du Toit op die verhoog. Die konsert word op 30 Mei om sesuur in die NG Kerk Pellissier aangebied. Vir besprekings of navrae kontak vir Jakcie Malan by jackie@ncpd.org.za of vir meer inligting besoek www.janniedutoit.com