On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Misdaadstatistieke: Moord neem toe in Noord-Kaap

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:27 Fri, 23 May 2025

Misdaadstatistieke: Moord neem toe in Noord-Kaap | News Article
Senzo Mchunu. Foto: Facebook

’n Toename in moordgevalle is in die Noord-Kaap aangeteken gedurende die vierde kwartaal van die 2024/25-boekjaar, die enigste provinsie in Suid-Afrika wat ’n toename in dié misdaad aangeteken het.

Terwyl die land van 1 Januarie tot 31 Maart afnames in verskeie ernstige misdade ervaar het teenoor dieselfde tydperk verlede jaar, het die provinsie ’n beduidende toename in moorde aangeteken, wat ’n bron van kommer is.

Senzo Mchunu, minister van polisie, het Vrydag (23/5) hierdie inligting bekendgemaak.

In die Noord-Kaap het ernstige misdaad effens afgeneem, van 11 403 sake in die eerste kwartaal van 2024 tot 11 329 in dieselfde tydperk van 2025 – ’n afname van 0,%. Ten spyte van hierdie algehele verbetering het moordsake in die provinsie skerp toegeneem van 91 tot 112, ’n styging van 23,1%.

Geen polisiebeamptes dié kwartaal vermoor

Hoewel die Noord-Kaap slegs sowat 2% tot die nasionale moordstatistieke bydra, is hierdie toename beduidend en sal dit aangespreek word deur middel van geteikende wetstoepassing en gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe, sê Mchunu.

Geen polisiebeamptes is gedurende hierdie kwartaal in die provinsie vermoor nie, vergeleke met twee in dieselfde tydperk die vorige jaar.

Seksuele oortredings in die Noord-Kaap het effens met 1% gestyg, van 409 tot 413 gevalle, terwyl motorkapings konstant gebly het met 12 aangemelde voorvalle in beide periodes.

Afname in diefstal van motorvoertuie, motorfietse

Ontvoerings het toegeneem van 34 tot 43 gevalle, en vir die eerste keer is twee losprysverwante misdaadvoorvalle aangemeld, vergeleke met geen verlede jaar nie.

Ander misdaadtendense in die Noord-Kaap sluit in ’n afname in diefstal van motorvoertuie en motorfietse van 33 tot 26 gevalle. Veediefstal het ’n beduidende afname van 22,4% beleef, van 263 tot 204 gevalle, terwyl winkeldiefstal met 16,3% gedaal het, van 337 tot 282 voorvalle. Omgekeerd het dwelmverwante misdaad met 4,8% toegeneem, van 736 tot 771 gevalle.

Nasionaal het moordsyfers oor die algemeen afgeneem, tesame met poging tot moord, aanranding en roofsyfers. Motorkapings het met 15% gedaal. Verkragtingsake het egter met 36 voorvalle toegeneem van 10 652 tot 10 688, en algehele seksuele oortredings het gestyg, ten spyte van ’n afname in seksuele aanrandingsake.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.