Central SA
Twee Vrystaters in hegtenis weens vuurwapen, ammunisie─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:30 Sun, 25 May 2025

Twee Vrystaatse verdagtes sal na verwagting Maandag (26/5) in die hof verskyn nadat daar glo ’n ongelisensieerde vuurwapen by hul huis gevind is.
Die man en vrou, onderskeidelik 28 en 21 jaar oud, is Vrydag (23/5) deur die Welkom teenbende-eenheid in hegtenis geneem nadat die polisie intelligensie-gedrewe inligting ontvang het oor ’n verdagte wat na bewering ’n ongelisensieerde vuurwapen probeer verkoop het, sê Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder.
Sonder huiwering het die lede die inligting operasioneel opgevolg, wat hulle na ’n huis in Thabong, net buite Welkom, gelei het.
Volgens Thabana is die paartjie in die huis aangetref. Toestemming om die perseel te deursoek is verleen.
Die vuurwapen wat gevind is. Foto verskaf
“Met die deursoeking van die huis het die polisie glo ’n rewolwer en ammunisie gevind.”
Sy sê albei verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle nie ’n lisensie kon toon dat hulle die vuurwapen wettig besit nie. Daar word beweer dat die man probeer het om die lede om te koop om die inhegtenisneming te vermy.
“Die twee verdagtes is gevolglik in hegtenis geneem vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Die man sal verder aangekla word van ’n poging tot omkopery en oortreding van die Immigrasiewet.”
Wapen glo in Odendaalsrus gesteel
Thabana sê die polisie het ook R5 000 kontant gekonfiskeer.
Voorspraakondersoeke het aan die lig gebring dat die vuurwapen glo in Oktober 2024 tydens ’n voorval in Odendaalsrus van die wettige eienaar gesteel is.
Die twee verdagtes sal in die Welkom-landdroshof verskyn.