Central SA
Vrystater na bewering met byna R100 000 se dwelms betrap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:30 Sun, 25 May 2025

’n Vrystater sal Maandag (23/5) in die hof verskyn weens die beweerde besit van en handel in dwelms ter waarde van byna R100 000.
Die verdagte (57) is Vrydag (23/5) in hegtenis geneem ná ’n intelligensie-gedrewe optrede wat tydens Operasie Vala uMgodi uitgevoer is.
Die span het op grond van versamelde inligting ’n beplande wegbreekaksie naby ’n geteikende adres in die Vrystaat uitgevoer, sê lt.kol. Thabo Covane, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Die polisie het inligting ontvang rakende ’n gebou wat na bewering gebruik word om dwelms te stoor, geleë in Keeromstraat in die Voorspoed-nywerheidsgebied naby Welkom.”
Die dwelms se straatwaarde word op R88 500 geskat. Foto verskaf
Volgens Covane het beamptes toesig oor die perseel gehou en Vrydag omstreeks 12:45 het die span aktiwiteite waargeneem.
“Die span het op die geteikende terrein ingegryp en ’n deeglike soektog uitgevoer. Tydens die soektog is kristalmetamfetamien, 424 volle Mandrax-tablette en twee klein skale, wat gebruik is vir die weeg van dwelms, gevind en gekonfiskeer."
Die voormalige eienaar van die stoor is onmiddellik in hegtenis geneem en ’n saak weens die besit en handel in dwelms is by die Welkom-polisiekantoor geopen.
Die straatwaarde van die gekonfiskeerde dwelms word op R88 500 geraam. Die verdagte sal in die Welkom-landdroshof verskyn.
Die skaal waarop die dwelms geweeg is. Foto verskaf
Nog twee Vrystaters van Thabong, ’n man (28) en vrou (21), sal Maandag (26/5) in die Welkom-landdroshof verskyn nadat ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie Vrydag (23/5) by hul huis gevind is.
Die Welkom teenbende-eenheid het hulle in hegtenis geneem ná inligting oor ’n verdagte wat glo ’n vuurwapen verkoop, sê Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die polisie het die huis deursoek en ’n rewolwer, ammunisie en R5000 kontant gekry.
Die man het na bewering probeer om die polisie om te koop. Hy sal ook aangekla word van poging tot omkopery en oortreding van die Immigrasiewet.
Die vuurwapen is glo in Oktober 2024 in Odendaalsrus gesteel.