Central SA
Herstelwerk begin binnekort aan een van ‘swakste paaie in Vrystaat’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:30 Sun, 25 May 2025

Herstelwerk sal na verwagting binnekort aan een van die swakste paaie in die Vrystaat begin.
Ná jare se druk van die DA, sal herstelwerk aan die verswakte Marquard-Clocolan-pad in die Vrystaat uiteindelik op 1 Junie 2025 begin.
“Die pad word lank reeds as een van die swakstes in die Vrystaat beskou, wat ’n negatiewe impak op besighede, boere en inwoners het,” sê Jose Coetzee, DA-raadslid in die Setsoto-munisipaliteit.
Die roete speel ’n belangrike rol in die vervoer van goedere deur die Vrystaat. “Die langdurige verwaarlosing daarvan het aansienlike ekonomiese skade veroorsaak, wat besighede en logistieke operateurs gedwing het om hul roetes te herlei, wat plaaslike ekonomieë verder benadeel en toerisme verminder,” sê Coetzee.
Herstelwerk sal na verwagting binne 'n week begin. Foto verskaf
Die padopgraderingsprojek, ter waarde van byna R275 miljoen, sal na verwagting binne 15 maande voltooi wees.
Volgens Coetzee sluit dit uitgebreide herstelwerk in soos slaggatregstellings, permanente oppervlakbehandeling, verseëling, padmerke en die installering van naamborde. ’n Kontrakteur is amptelik op 28 November aangestel.
LEES OOK: AfriForum nader Sanral ná munisipaliteit pad verniel voor NAMPO
“Die projek sal 828 werksgeleenthede skep, met indiensneming gelykop verdeel tussen Marquard en Clocolan. Om billikheid en deursigtigheid te verseker, is werkers via ’n openbare lotery gekies. Werwing in Marquard het op 16 Mei begin, terwyl Clocolan nog wag op bevestiging van die datum.
Die Vrystaatse Departement van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer berig dat die Thaba Nchu-padprojek ook 200 plaaslike werksgeleenthede geskep het. Saam het beide projekte werk vir 1 028 individue geskep, met alle rekrute wat na verwagting op 1 Junie sal begin werk.
Coetzee voeg by dat die DA die projek se vordering noukeurig sal monitor om te verseker dat dit aan kwaliteitstandaarde voldoen en betyds voltooi word.