Central SA
Noord-Kaapse premier gee toe oor R1 miljard behuisingsprojek – DA─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:00 Sun, 25 May 2025

Daar word ’n beroep op die Noord-Kaapse premier gedoen om provinsiale behuisingsprojekte reg te ruk en ware ontwikkeling van plaaslike kontrakteurs te verseker sonder om behuisingsdoelwitte te benadeel.
Die DA in die Noord-Kaap het tydens Donderdag (22/5) se sitting Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, oor die behuisingsprojek ter waarde van R1 miljard uitgevra, sê Gizella Opperman, DA-LPW en Noord-Kaapse provinsiale woordvoerder vir samewerkende regering.
“Hy het toegegee dat die provinsie nie die oorspronklik beloftes kan nakom nie.”
Sy sê met die bekendstelling van die projek in Januarie 2024 deur president Cyril Ramaphosa, was die Noord-Kaap verseker dat 4 000 huise binne twaalf tot agtien maande gebou sou word. “Die premier het egter nou erken dat die Noord-Kaapse departement van samewerkende regering reeds die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika moes nader vir ’n tydsverlenging van minstens ses maande.”
Verlengingsversoek ’n nare herinnering
Volgens Opperman is hierdie verlengingsversoek ’n nare herinnering aan die infrastruktuurprojekte wat selde betyds of binne begrotingsperke afgehandel word wanneer die regering betrokke is. “Dit herinner aan die oënskynlik verlate Williston-behuisingsprojek, waar die premier in Februarie 2023 belowe het dat 50 van die 150 beplande huise teen November 2023 vir begunstigdes gereed sou wees. Daar staan egter nou nog net vyf halfklaar huise sonder dakke, asook een fondasie.”
Sy sê die premier is vinnig om plaaslike kontrakteurs te blameer omdat hulle nie die nodige kapasiteit het om COGHSTA se kontrakvoorwaardes na te kom nie. Hy is egter traag om te aanvaar dat die provinsiale regering dit onmoontlik maak vir plaaslike kontrakteurs om te slaag.
“Ondanks die president se belofte dat plaaslike sakelui munt uit die R1 miljard behuisingsprojek sou slaan, word plaaslike besighede die geleentheid ontsê om die nodige ervaring op te doen en hul besighede op te bou.”
Wat is finansiële implikasies van gesloer?
Opperman sê sy het die premier versoek om meer besonderhede te bekom oor strategieë wat gebruik sal word om plaaslike kontrakteurs te ontwikkel sonder om die gehalte of die spoed van die behuisingsprojek te belemmer. “Om kontrakte bloot op te skort sonder om ware ontwikkelingsprogramme te implementeer sal oor die medium- en langtermyn geen aanwins vir die provinsiale ekonomie wees nie.”
President @CyrilRamaphosa breaking ground at a sod-turning ceremony held at the official site of the new housing project in the Northern Cape.
— The Presidency ???? (@PresidencyZA) January 18, 2024
The initiative aims to alleviate the housing crisis in the province, addressing the needs of 162 informal settlements and nearly 80 000… pic.twitter.com/VtMvDNfOU3
Sy het ook terugvoering versoek oor die provinsie se samesprekings met die Ontwikkelingsbank en wat die finansiële implikasies van die afgelope sestien maande se gesloer sal wees.
“Nadat die provinsie in Desember 2023 toestemming gekry het om R600 miljoen van die Ontwikkelingsbank te leen om die behuisingsprojek gedeeltelik te befonds, het die premier tydens ’n huissitting gesê dat rente sowat R92 miljoen sal beloop.”
Opperman sê verdere prysstygings of oponthoud van hierdie belangrike projek kan nie bekostig word nie.