Central SA
Saak teen Bloemfonteinse kunstenaar se vrou, medebeskuldigde weer uitgestel─── ZENANDE MPAME 10:44 Mon, 26 May 2025

Die saak teen die twee verdagtes wat met die moord op die Bloemfonteinse kunstenaar Pesa Pheko verbind word, is tot Woensdag 25 Junie in die landdroshof in Botshabelo uitgestel vir ’n akte van beskuldiging.
’n Akte van beskuldiging is ’n formele, geskrewe aanklag wat iemand van ’n misdryf beskuldig. Dit is ’n dokument wat die beskuldigdes van die klagte teen hulle in kennis stel, en beteken in wese die aanvang van ’n strafregtelike verhoor.
Nombulelo Pheko (34) en Motlatsi Ramosoeu (39) het verlede Woensdag in dieselfde hof verskyn vir die direkteur van openbare vervolging se besluit oor of daar met vervolging voortgegaan gaan word.
“Die saak teen die twee beskuldigdes is uitgestel vir die akte van beskuldiging,” sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder. “Die twee bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.”
Die beskuldigdes is aanvanklik van sameswering tot moord aangekla, maar die klag is na moord verander nadat DNS-toetse bevestig het dat die oorskot met dié van die oorledene se familielede ooreenstem.
Khausu Pheko, die ouer broer van die oorledene, het sy frustrasie uitgespreek oor die gedurige uitstellery: “Ons raak moedeloos.”
“Ons hoop wanneer ons volgende keer hof toe kom, sal hulle vir ons sê wanneer die verhoor begin, want sedert Desember stel hulle net uit,” sê hy.
Pheko is in Maart vanjaar begrawe nadat sy familie hom laas in Julie verlede jaar hul huis in Botshabelo sien verlaat het. Hy is op 10 Julie as vermis aangemeld.
Pacofs het ’n verklaring oor Pesa Pheko uitgereik. Foto: pacofs.co.za
DNS van ’n familielid van Pheko het ooreengestem met die verbrande liggaam van ’n onbekende man wat in Julie naby Dealesville gevind is.
“Pesa het homself toegewy aan die bevordering en bewaring van kultuur deur storievertelling, optrede en diens,” lui ’n verklaring van Pacofs. “Hy was ’n passievolle en toegewyde persoon wat ’n onuitwisbare indruk gelaat het op almal wat die voorreg gehad het om hom te ken.”
“Sy nalatenskap sal steeds weerklink in die sale van Pacofs en in die harte van diegene wie se lewe hy aangeraak het.”