Central SA
Vrystaat kry ook nuwe forensiese laboratoriums─── ZENANDE MPAME 11:13 Mon, 26 May 2025

Die Vrystaat is uitgesonder as een van die provinsies wat kan uitsien na nuwe polisielaboratoriums om forensiese dienste landwyd vaartbelyn te maak.
Polisieminister Senzo Mchunu het die oprigting van dié instellings Vrydag (23/5) genoem in die bekendmaking van die jongste misdaadsyfers, dié vir Januarie tot Maart vanjaar.
Forensiese laboratoriums speel ’n belangrike rol in die regstelsel deur bewyse van misdaadtonele bymekaar te maak. Hulle hanteer misdaadbewyse, dokumente, wetenskaplike ontledings en slagofferuitkennings.
“Ons vermeerder die getal laboratoriums landwyd en rus hulle toe met gevorderde toerusting en tegnologie,” het Mchunu gesê. “Dis noodsaaklik om die doeltreffendheid van ons forensiese dienste te verbeter. Ons sal toesien dat Mpumalanga laboratoriums het en sal die diens uitbrei na provinsies soos Limpopo en die Vrystaat.”
Die departement spits hom ook daarop toe om die toestande in polisiekantore te verbeter sodat die publiek ’n beter ervaring kan hê en die werksomstandighede bevorderlik is vir beamptes. Nuwe polisiekantore sal gebou en bestaandes sal opgeknap word, het Mchunu gesê.
In Maart vanjaar het Ian Cameron, voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, inligting ontvang dat die polisie se forensiese wetenskaplaboratorium ’n kritieke DNS-agterstand van meer as 140 000 sake het.
Cameron het ’n versoek by die kantoor van die Ouditeur-Generaal ingedien om ’n volledige forensiese oudit te laat uitvoer van die polisiediens se DNS-verwerkingsprosesse en forensiese laboratoriums, asook op kontrakbestuur binne die afdeling.
“Hierdie krisis is ’n direkte bedreiging vir ’n doeltreffende strafregstelsel wat misdadigers kan hanteer en vervolg, en vir pogings om geslagsgeweld te bekamp,” het hy gesê.
“Die agterstand beteken dat duisende slagoffers moontlik nooit die geregtigheid sal kry wat hulle toekom nie, terwyl geweldenaars steeds vry rondloop en aanhou om onskuldige mense te terroriseer.”
Die polisie het ’n hooflaboratorium in Pretoria. Die laboratoriums in Pretoria en die Wes-Kaap bestaan uit al die eenhede, terwyl die laboratorium in die Oos-Kaap oor ’n ballistiese en chemie-eenheid beskik en die laboratorium in KwaZulu-Natal uit ’n ballistiese eenheid bestaan.