Central SA
Verdagtes wat maatskappy glo besteel dan terug in hof─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:01 Wed, 28 May 2025

Die beskuldigdes wat ’n Noord-Kaapse landboumaatskappy na bewering uit honderdduisende rande bedrieg het, kom na verwagting weer voor op 1 Julie.
Schalk Pienaar (37), Leolene Pienaar (34), Patricia Booysen (34) en Saal Andrico Brenton het Dinsdag (27/5) in Prieska se landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Noord-Kaapse Valke-woordvoerder.
Na bewering is die GWK-groep tussen April 2020 en Oktober 2021 uit R705 005,50 bedrieg. “Schalk, Pienaar en Booysen is op 18 Desember 2024 in hegtenis geneem en later op borgtog vrygelaat. Hulle staan tereg op 39 aanklagte van korrupsie, 48 van bedrog en 78 van geldwassery,” sê Mnisi.
Brenton is Woensdag (21/5) in hegtenis geneem en het dieselfde dag in die plaaslike landdroshof verskyn waar hy van vyf aanklagte van geldwassery aangekla is. Hy is op borgtog van R300 vrygelaat.
Schalk, die hoofbeskuldigde en destyds ’n toesighouer by ’n vulstasie, het na bewering sy vrou, Leolene, bedrieglik as ’n verskaffer geregistreer.
Die registrasie is verwerk sonder om die verhouding tussen die partye bekend te maak, soos vereis word deur GWK se beleid.
LEES OOK: Vier vas weens beweerde geldwassery van R700 000
“Schalk het na bewering saamgesweer met sy kollega Booysen – ’n administratiewe klerk – om vervalste fakture ten gunste van Leolene in te dien. Ná die beweerde betalings in Leolene se rekening is ’n gedeelte van die geld na bewering na Booysen se persoonlike bankrekening oorgeplaas.”
Mnisi sê die Valke se ondersoek het voorts aan die lig gebring dat Brenton na bewering ook baat gevind het by die bedrogspul en nou vyf aanklagte van geldwassery in die gesig staar.
Schalk het bedank voordat die saak vir ondersoek oorhandig is, terwyl Booysen se diens daarna beëindig is.
OFM Nuus mvhmvh