Central SA
Noord-Kaapse skoolhoof, kringbestuurder geskors ná besoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:14 Wed, 28 May 2025

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement het ingegryp om stabiliteit by ’n skool te herstel na ernstige kommer oor standaarde wat agteruitgaan.
As deel van ’n dringende ingryping het die departement die skoolhoof van die Primêre Skool Agang Thuto op Skeyfontein, naby Postmasburg, en die kringbestuurder summier geskors, sê Geoffrey van der Merwe, departementele woordvoerder.
Hy het aan OFM Nuus bevestig dat ’n administrateur aangestel sal word om die skool tydelik te bestuur terwyl pogings aan die gang is om die bedrywighede te stabiliseer.
Agang Thuto Primary School. Foto: Facebook/SIOC-CDT SA
“Die departement is bekommerd oor die situasie by die skool. ’n Onaangekondigde besoek deur amptenare van die departement het aan die lig gebring dat die gehalte van onderwys ernstig in die gedrang kom.”
’n Reeks klagtes is van bekommerde ouers ontvang, sê Van der Merwe. Hulle beweer onderwysers kom nie hul pligte na nie en leerders word akademies afgeskeep.
Tydens die besoek het amptenare glo ’n wydverspreide gebrek aan dissipline, onreëlmatige bywoning deur leerders en opvoeders, en ’n algemene minagting vir die skool se daaglikse rooster waargeneem. “Hierdie vlak van wanfunksie maak die skool ondoeltreffend en ontwrig die onderrig- en leerproses ernstig,” sê Van der Merwe.
‘Eens ’n florerende instelling’
Die hoof van die onderwysdepartement het ’n spesiale span ontplooi om die onderliggende probleme die hoof te bied en die oorsake van die skool se agteruitgang te ondersoek. “Wat eens ’n florerende instelling met ongeveer 200 leerders was, het nou afgeneem tot ’n skool met slegs 40 leerders.”
Van der Merwe sê die departement hoop die ingryping sal help om die skool se geloofwaardigheid te herbou en gemeenskapsvertroue te herstel. “Ons sal ook nou saamwerk met die plaaslike gemeenskap om leerderinskrywings te verhoog en die langtermyn volhoubaarheid van die skool te verseker.”
Die name van die geskorste skoolhoof en kringbestuurder is nog nie bekendgemaak nie.
OFM Nuus mvh