On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Stamselbehandeling gee Vrystaatse gesin met outistiese seun hoop

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:33 Wed, 28 May 2025

Stamselbehandeling gee Vrystaatse gesin met outistiese seun hoop | News Article
Corban Pretorius. Foto verskaf

’n Vrystaatse gesin berei voor op ’n potensieel lewensveranderende pad terwyl hul seun ’n maand lange stamselbehandeling vir outisme sal ondergaan.

Corban Pretorius (10) sal van 16 Junie tot 12 Julie in die Stemcure-kliniek op Witrivier, Mpumalanga, die behandeling ontvang wat moontlik verbeterings kan teweegbring in sy kommunikasie, gedrag en algehele lewensgehalte, sê sy ma, Natasha Pretorius, van Bloemfontein.

Corban het al sedert sy babajare met uitdagings te kampe, maar teen 18 maande het hy uiterste frustrasie getoon, wat gelei het tot selfbeserende gedrag, insluitend kopstampe teen vloere, mure en meubels. “Hierdie episodes, wat tot ’n uur aangehou het, is dikwels verkeerd verstaan as woede-uitbarstings in plaas van aanduidings van ’n dieper, neurologiese stryd.”

Volgens Pretorius is Corban in 2017 as tweejarige na hul pediater geneem vir evaluering. “Hy het ’n reeks toetse ondergaan, insluitend ’n MRI, om moontlike breinskade uit te sluit. Die aanvanklike gehoortoetse het normaal teruggekom.”

Die Pretorius-gesin. Foto verskaf

Sy sê weens komplikasies tydens geboorte – spesifiek ’n gebrek aan suurstof vir ongeveer twee minute wat veroorsaak is deur ’n broeikasprobleem – is ’n MRI egter uitgevoer. “Hoewel die MRI-resultate normaal was, het dokters buitengewoon hoë breingolfaktiwiteit waargeneem en ernstige sinusitis by hom gediagnoseer.

“Hierna het ons verdere assessering by die Noordwes-Universiteit gesoek, waar hoogs funksionele outisme by Corban gediagnoseer is. Intensiewe spraak- en arbeidsterapie is aanbeveel as deel van sy behandelingsplan.”

Begin op ses praat

Met die ondersteuning van ’n toegewyde spraakterapeut in Bloemfontein het Corban op ses begin praat.

Volgens Pretorius is Corban as tweejarige Risperdal voorgeskryf, ’n skedule 5- antipsigotiese medikasie wat gebruik word om prikkelbaarheid te behandel wat met outisme vereenselwig word.

Antipsigotiese medikasie word ook gebruik om psigose te behandel, veral in gevalle van skisofrenie en bipolêre versteuring, maar ook vir ander toestande soos demensie, Tourette-sindroom en grenspersoonlikheidsteuring.

Natasha en Corban. Foto verskaf

“Hoewel die medikasie gehelp het om sy simptome te bestuur en hom toegelaat het om te slaap, het dit ook langtermyn newe-effekte meegebring, insluitend ’n verswakte immuunstelsel.”

Mettertyd het Corban chroniese sinusitis en ander gesondheidsprobleme ontwikkel. Chroniese sinusitis is ontsteking van die neusgange en sinusse wat minstens twaalf weke duur.

Corban het reeds ’n reeks gesondheidsterugslae beleef, waaronder hospitalisasie kort voor sy tiende verjaardag weens kwaai migraine en braking.

Obstruksie tussen sy brein en oog ontdek

Pretorius vertel Corban het in Oktober intense hoofpyn begin ervaar, asook naarheid, bleekheid en lomerigheid. “Nadat hy in die hospitaal opgeneem is, het dokters ’n obstruksie tussen die linkerkant van sy brein en oog ontdek.

“Verskeie spesialiste het teen chirurgie aangeraai weens die hoë risiko van ernstige bloeding of potensiële sigverlies, en die presiese aard van die blokkasie bly onduidelik.”

Weens sy beperkte kommunikasievaardighede is dit moeilik om die omvang van sy pyn ten volle te begryp, hoewel hy dit soms beskryf as sy kop wat “ontplof” of “brand”.

Hoogs funksionele outisme is op 18 maande by Corban gediagnoseer. Foto verskaf

Sy sê dokters glo die obstruksie was moontlik sedert vroeë kinderjare teenwoordig en kan gekoppel word aan ’n geskiedenis van koptrauma. Die laat ontwikkeling van sy kommunikasie en sosiale interaksie het ’n groot invloed gehad op sy akademiese prestasie en vermoë om met maats te speel.

Volgens Pretorius het haar seun die afgelope agt jaar ses verskillende skole bygewoon en dikwels isolasie ervaar weens ’n gebrek aan pasgemaakte ondersteuning en gespesialiseerde hulpbronne. “Die moeilikste deel is dat hy nie vriende het nie.”

Potensiële deurbraak

In Desember het die gesin van ’n potensiële deurbraak gehoor: stamselterapie. Die behandeling in die Stemcure-kliniek belowe verbeterings in gedragsregulering, angs, sosiale vaardighede, kommunikasie en fokus – areas waarmee Corban steeds daagliks sukkel.

Dié geleentheid op ’n beter lewe vir hul seun kos ’n plaas se geld. Die totale geraamde uitgawe vir behandeling, reis, verblyf en lewenskoste gedurende die maandlange verblyf is meer as R100 000.

Dit sluit in:

• Stamselbehandeling: R73 350

• Verblyf (1 maand): R11 162,50

• Reiskoste: R17 000

• Kruideniersware en maaltye: R4 000

“Ons doen alles in ons vermoë om geld in te samel en koste te verminder, maar ons kan dit nie alleen doen nie,” sê Louis, Corban se pa.

“Enige bydrae – maak nie saak hoe klein nie – sal direk gaan om Corban te help om die sorg te ontvang wat hy nodig het.”

Benewens finansiële skenkings vra die familie ook die gemeenskap om hul storie te deel sodat die verspreiding van bewustheid hulle hopelik sal help om hul doelwit te bereik.

“Uit die diepte van ons hart: Dankie dat julle saam met ons staan op hierdie reis van geloof en hoop.”

Daar is 'n BackaBuddy vir Corban begin.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.