On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Bejaarde Vrystater skuldig aan geldwassery

───   09:18 Thu, 29 May 2025

Bejaarde Vrystater skuldig aan geldwassery | News Article
Foto ter illustrasie: Unsplash/Tingey Injury Law Firm

Die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Bloemfontein het ’n sakeman (84) van die Vrystaat skuldig bevind aan geldwassery.

Paul Phillipus Neethling, direkteur van Neetven BK, is Woensdag (28/5) gevonnis nadat onreëlmatige betalings in 2015 aan sy maatskappy en ’n trust deur die departement van openbare werke ontdek is, sê ao. Fikiswa Matoti, provinsiale Valke-woordvoerder.

Die geboue is destyds aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens op Bethlehem en Harrismith verhuur.

Vonnis opgeskort

Die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige korrupsie het vasgestel dat die oordragte vir water, ligte en munisipale dienste sterk opgejaag is en deels weer na staatsamptenare teruggevloei het. Die staat het ’n verlies van meer as R340 000 gely.

Neethling is tot ses jaar tronkstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is, mits hy nie weer skuldig bevind word nie, sê Matoti. Neetven BK het die volle bedrag aan die staat terugbetaal, en aanklagte teen die maatskappy is laat vaar.

Die verhoor teen die twee betrokke staatsamptenare begin op 2 Junie in dieselfde hof.

Borgtog van R10 000

Intussen het Matiro Rebecca Mogopodi (57), voormalige rekenpligtige beampte van Tswelopele-munisipaliteit op Bultfontein, Letlhogonolo Godfrey Mokgeledi (42) en sy maatskappy Upsurge Construction and Projects (Edms.) Bpk. Woensdag vlugtig in die Bultfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, oortreding van die Wet op Finansiële Bestuur, en oortreding van die Wet op Skuldinvorderaars.

Hulle is elk op borgtog van R10 000 vrygelaat. Die saak is tot 27 Augustus uitgestel en sal dan voor die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid se hof in Welkom dien.

Luidens berigte het die voormalige rekenpligtige beampte van die munisipaliteit in Bultfontein in Augustus 2019 ’n diensverskaffer aangestel om skuldinvorderingsdienste vir die munisipaliteit te lewer, sonder om die nodige voorsieningskettingprosedures van die munisipaliteit te volg.

Bedrieglike dokumente, fakture

Sowat R530 190,80 is vervolgens na die diensverskaffer se bankrekening oorbetaal, sê Matoti. Die vermeende bedrogspul het aan die lig gekom nadat die munisipale raad ’n verslag van die ouditeur-generaal ontvang het waarin onreëlmatige en vrugtelose uitgawes met die aanstelling en betaling van die diensverskaffer uitgewys is.

Die verslag het voorts gelui dat die diensverskaffer glo bedrieglike dokumente en fakture ingedien het, en nooit die dienste gelewer het waarvoor hy betaal is nie. Die munisipaliteit is benadeel en het ’n verlies van ongeveer R530 190,80 gely.

’n Strafregtelike klag is ingedien, en die saak is vir verdere ondersoek na die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdade in Welkom verwys.

Die twee verdagtes, asook die betrokke maatskappy, word aangekla van bedrog en oortredings van die Wette op Finansiële Bestuur en op Skuldinvorderaars.

OFM Nuus mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.