On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Olebogeng
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Oudpolisieman van Upington kry borgtog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:34 Fri, 30 May 2025

Oudpolisieman van Upington kry borgtog | News Article
Die aanklagte teen lt.kol. Pieter Andries Nel van die Upington-polisiekantoor sluit in bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Foto verskaf

’n Gewese Noord-Kaapse polisiebeampte is op borgtog vrygelaat en sal na verwagting weer op 9 Junie op aanklagte van korrupsie in die hof verskyn.

Lt.kol. Pieter Andries Nel, voorheen verbonde aan Upington se polisiestasie, het Donderdag (29/5) in die plaaslike landdroshof verskyn, waar hy borgtog van R20 000 toegestaan is, sê die Valke-woordvoerder, lt.kol. Tebogo Thebe. “Die saak is uitgestel vir ’n eerste verskyning in die streekhof.

OFM Nuus het voorheen berig Nel is Woensdag deur die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige korrupsie by sy woning in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Bedrieglike betalings na bewering geskep

Volgens Thebe was Nel, as hoof van finansiële dienste in die Z.F. Mgcawu-distrik, verantwoordelik vir die goedkeuring van betalings aan diensverskaffers, sowel as verblyf- en reiskoste vir polisiebeamptes in Gordonia.

“Tussen 2022 en 2024 het hy na bewering bedrieglike betalings van meer as R1,2 miljoen geskep en goedgekeur, wat toe glo in sy persoonlike bankrekening gedeponeer is,” het Thebe gesê.

Die Valke het lasbriewe van J50 in Kimberley en Kaapstad uitgevoer. Foto verskaf

In ’n aparte bedrogondersoek word verwag dat ses individue Maandag weer in die Kimberleyse landdroshof sal verskyn op aanklagte van beweerde oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, bedrog, korrupsie en geldwassery.

Die ses is Motlalepule Elia Selemela, voormalige hoof van die departement van paaie, vervoer en openbare werke, Ruth Palm, voormalige waarnemende hoof van dieselfde department, Lorencia Crause, Louis Adriaan van Niekerk, Edward Charles Petzer en Moyahi Winston Modisa, almal voormalige direkteure van Babereki Consulting.

Volgens Thebe het die verdagtes Woensdag in die hof verskyn nadat hulle deur die Valke in Kimberley en Kaapstad aangekeer is.

Oudpolisieman aangekeer vir beweerde korrupsie in Noord-Kaap | News Article

Alle verdagtes is op borgtog vrygelaat wat wissel tussen R2 000 en R10 000. Foto verskaf

“Selemela het na bewering in Augustus 2005 onwettig ’n konstruksiekontrak aan Vista Park/Joh Arch Investment toegeken vir die ontwikkeling van ’n nuwe psigiatriese hospitaal, waaraan werk in September 2005 sou begin,” het Thebe gesê.

Palm word daarvan beskuldig dat hy ’n betaling van R36 miljoen vir die projek goedgekeur het sonder om die vereiste verkrygingsprosedures te volg.

Totale koste oorskry R1 miljard

Hoewel die aanvanklike projekberaming R297 miljoen was, het die totale koste eindelik R1 miljard oorskry weens swak vakmanskap, vertragings, sloping vir korrektiewe werk en veranderinge in kontrakteurs.

Die voormalige direkteure van Babereki Consulting word vervolg nadat hulle na bewering R51 miljoen van die departement ontvang het sonder ’n wetlik-bindende kontrak.

Al ses verdagtes is op borgtog vrygelaat, wat wissel van R2 000 tot R10 000.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.