On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades Ashmund
NEXT: 20:00 - 23:59 Saturday Nights with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse DBV vra hulp ná jag met honde

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:39 Fri, 30 May 2025

Vrystaatse DBV vra hulp ná jag met honde | News Article
Die honde wat gebruik is vir jag op ’n Vrystaatse plaas. Foto verskaf

Die Vrystaatse Dierebeskermingsvereniging (DBV) vra inwoners moet waaksaam bly en enige verdagte optrede aanmeld wat die gebruik van honde vir jagdoeleindes behels.

Die Bloemfonteinse DBV moes onlangs ingryp op ’n plaas waar vermoedelik onwettige jag met honde tot die besering of dood van verskeie diere gelei het, sê insp. Lucky Oliphant.

Vyf honde, wat vermoedelik in hierdie jagtogte gebruik is, is in ’n haglike toestand gevind. Beamptes het op hulle beslag gelê en onder die sorg van die DBV geplaas.

Oliphant sê ses verdagtes is op die plaas aan die R700, naby Soutpan, ongeveer 50 km buite Bloemfontein, in hegtenis geneem toe hulle in besit van dierekarkasse betrap is.

Al die honde is by die DBV. Foto verskaf

“Aanklagte van dieremishandeling is teen hulle aanhangig gemaak,” sê Oliphant.

Kragtens die Dierebeskermingswet (Wet 71 van 1962) is dit onwettig om enige dier aan te hits om ’n ander aan te val. Benewens aanklagte van dieremishandeling, is verdere aanklagte ingevolge die Vrystaatse Natuurbewaringsordonnansie No. 8 van 1969 aanhangig gemaak.

Die honde is blykbaar gebruik om twee ystervarke, ’n blouaap en ’n pofadder om die lewe te bring.

Oliphant maan onwettige jag met honde is ’n wydverspreide en wrede praktyk in die Vrystaat, wat lei tot ernstige lyding vir wildediere sowel as honde.

Jag met honde bly ’n beduidende probleem dwarsoor die Vrystaat. Foto verskaf

“Al vyf honde was in ’n verskriklike toestand. Ons het ou wonde ontdek wat dui op langtermyngebruik as jaghonde, en waarskynlik langdurige mishandeling.”

Volgens Oliphant werk hulle nou saam met die polisie, die departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake en plaaslike gemeenskappe om ’n stokkie te steek voor hierdie “barbaarse” praktyke

Maar hy sê hulle kan dit nie alleen doen nie en het die publiek se hulp nodig.

Vyf van die honde was in haglike toestande. Foto verskaf

“Jag met honde bly ’n beduidende probleem dwarsoor die Vrystaat,” sê Oliphant.

Die DBV vra enigiemand wat sulke optrede waarneem of vermoed dat dit gebeur, om dit onmiddellik aan te meld deur hul noodnommer, 051 447 3801, te bel.

“Elke wenk help ons om meer diere van lyding te red,” voeg Oliphant by.


Johan Gunter het vroeër met Vrystaat Landbou se dr. Jane Buys gesels oor hierdie uitdagende situasie. Sy sê ’n paar praktiese riglyne is natuurlik dat die boer altyd eerstens die grondeienaar en die plaaslike polisie moet nader wanneer sy eiendom betree word. Laat ook die plaaswag weet.

Sy sê dit is ook belangrik om die veiligheidsverteenwoordiger van die boerevereniging te laat weet omdat hierdie jagters gewoonlik in groot groepe op plase opdaag. “Dit sal onwys wees om as ’n grondeienaar hierdie mense alleen te konfronteer.”

Oortreders arrogant en aggressief

Buys sê in baie gevalle is oortreders arrogant en aggressief en moontlik gewapen. Die grondeienaar kan ook sy werkers inlig dat hulle geensins toestemming mag gee aan enige persone om op hulle plaas te jag in hulle afwesigheid nie.

Volgens Buys sal dit raadsaam wees om Agri SA en Vrystaat Landbou se plaasprotokolbord of ’n toepaslike kennisgewing by hekke of ingange of grens heinings aan te bring om te bewys dat dit die eiendom is wat betree word en om mense daaroor in te lig.

Maak so gou moontlik kontak met natuurbewaring of die DBV wanneer daar skade is of diere seergekry het.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.