Central SA
Noordwes-student sterf in gru-botsing─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:39 Fri, 30 May 2025

Begrafnisreëlings moet nog getref word vir ’n NWU-student wat haar lewe in ’n grusame botsing verloor het.
Leandri Viviers (22), ’n honneursstudent in aktuariële wetenskappe aan die fakulteit natuur- en landbouwetenskappe, het haar lewe vroeg Dinsdagmiddag (27/5) verloor in ’n trompop botsing op die R23 tussen Val en Balfour, Mpumalanga.
Volgens die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling in die provinsie het twee mans in die ander voertuig ook gesterf. Hul identiteit is nog nie bekendgemaak nie en die oorsaak van die botsing bly onbekend.
Die departement het bevestig al drie slagoffers het “onherkenbaar verbrand”.
“Leandri was ’n integrale deel van ons Potchefstroomkampus-gemeenskap, en haar teenwoordigheid sal diep gemis word in die lewens van ons almal wat sy aangeraak het,” sê Louis Jacobs, NWU-woordvoerder.
“Hierdie tragiese verlies het ons hele kampusgemeenskap geskud, en ons betuig ons diepste meegevoel aan Leandri se familie, vriende en geliefdes. Ons hoop hulle vind vertroosting gedurende hierdie moeilike tyd.”
’n Kollega beskryf haar as “die mooiste kind met die sagste geaardheid”.
“Ons diepste simpatie en meegevoel word betuig aan haar familie, vriende en die studente wat ’n koshuis met haar gedeel het.”
Viviers het volgens die studenteraad in die Wanda-vrouekoshuis gebly.
Intussen het Laerskool Pionier op Volksrust op sy Facebook-blad hulde gebring aan Viviers en sê dat sy ’n spesiale plek in die skoolgemeenskap gehad het. “Sy sal onthou word as iemand wat altyd ’n vriendelike glimlag, warm gees en hart vir mense gehad het.
“Haar nalatenskap leef voort in die herinneringe wat sy nalaat met haar vriende, onderwysers en almal wat haar geken het.
“Ons dra haar ouers, suster, familie en vriende in ons gedagtes en gebede in hierdie tyd van onmeetbare verlies. Mag julle vertroos word deur die liefde wat julle omring. Rus in vrede, Leandri. Jy sal altyd deel wees van ons skoolfamilie.”
Hoërskool Ermelo in Mpumalanga het ook hul meegevoel op Facebook betuig. Viviers was in 2021 die dux-leerder by die skool.
Sy word oorleef deur haar ouers en suster.