On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Ná twee maande steeds geen spoor van gesteelde liggame op Kuruman

───   ZENANDE MPAME 12:10 Tue, 03 Jun 2025

Ná twee maande steeds geen spoor van gesteelde liggame op Kuruman | News Article
Ná twee maande is daar steeds geen spoor van gesteelde liggame op Kuruman nie. Foto: Facebook

Ná twee maande is die liggame, wat uit ’n begrafnisonderneming op Kuruman gesteel is, steeds nie gevind nie.

Die Noord-Kaapse polisie soek nog na die drie liggame – dié van twee volwasse mans en ’n babameisie – wat in Maart by Motheo wa Bophelo-begrafnisondernemers op die dorp gesteel is.

Die polisie bied ’n beloning van R100 000 aan vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die oortreder(s) en die terugvind van die liggame kan lei.

Die vrou van een van die mans wie se oorskot geneem is, het aan SABC News gesê dié tragedie het ’n groot uitwerking op haar gesondheid. “Ek slaap nie snags nie, my bloeddruk is hoog, my diabetes is buite beheer en my hart is nie reg nie,” sê Macdaline Batswadi.


“Sedert my man se liggaam gesteel is, kan ek nie slaap nie. Niemand bel my om te sê of hulle sy liggaam gaan kry nie, dis net stil.

“Ons vra ons af of ons ooit sy liggaam sal kry. Al wat ons wil hê, is om sy oorskot te vind sodat ons hom met waardigheid kan begrawe.”

Die drie liggame is op Maandag 17 Maart uit ’n privaat lykshuis van Motheo wa Bophelo gesteel – insluitend dié van ’n tien dae oue baba wat dieselfde dag begrawe sou geword het.

Die ander twee liggame was dié van mans van 37 en 60, wat daardie naweek ter ruste gelê sou geword het.

Na bewering het twee onbekende mans vroegoggend toegang tot die onderneming verkry, die wag oorrompel, hom aangerand, vasgebind en oogklappe aangesit.

“Die enigste gevolgtrekking waartoe ons kon kom, is dat die oorledenes moontlik gesteel is vir moetie, mediese doeleindes, of deur mededingers in dié ongereguleerde begrafnisbedryf – wat dringend gereguleer moet word,” sê Johan Rousseau, voorsitter van die Funeral Industry Reformed Association.

OFM Nuus het vroeër berig James Mangate, eienaar van die begrafnisonderneming, het die voorval as “onmenslik” en “ontstellend” vir die naasbestaandes, personeel en gemeenskap beskryf.

Die Noord-Kaapse polisie doen ’n beroep op enigeen met inligting om kol. Corrie Coghlan te bel by 071 686 0020, sers. Luvuyo Poni by 063 257 2939 of Stop Misdaad by 08600 10111.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.