On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Plaasaanval: Niemand nog vas ná bejaarde van Brits sterf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:57 Wed, 04 Jun 2025

Plaasaanval: Niemand nog vas ná bejaarde van Brits sterf | News Article
Die oom se hand ná die aanval. Foto verskaf

Niemand is nog in hegtenis geneem nie nadat ’n bejaarde man van Noordwes ’n paar dae ná ’n wrede plaasaanval oorlede is nie.

Die man het Sondag (1/5) aan sy beserings beswyk, sê Thys van Heerden, wat verbonde is aan AfriForum se plaaslike buurtwag. 

“Dit is nog onduidelik of die man dood is aan die beserings wat hy tydens die aanval opgedoen het.” Die aanval het Woensdag (28/5) in die vroeë oggendure op ’n plaas langs Rooikoppiespad plaasgevind, waar die man en sy lewensmaat (albei in hul 70’s) in hul slaap aangerand is.

‘Ten tye van die aanval in ’n rolstoel’

“Die paartjie is omstreeks 01:00 aangeval terwyl hulle geslaap het, nadat vyf aanvallers die elektriese heining geknip, ’n badkamervenster oopgedwing en toegang tot die huis verkry het,” sê Van Heerden. “Daar was een aanvaller in die tannie se kamer en vier in die oom se kamer toe hulle wakker geword het.”

Volgens Van Heerden is die man erg op sy hande en kop geslaan. Hy was ten tye van die aanval in ’n rolstoel omdat hy aan die herstel was van ’n heupvervanging.

Die aanvallers het die man se eie pistool, wat hulle geneem het, gebruik om hom herhaaldelik te slaan, vertel Van Heerden. “Hoewel hy aanvanklik nie ernstig beseer gelyk het nie, was die man so uitgeput ná die aanval dat hy op die toneel aan die slaap geraak het.”

Honde vergiftig

Die vyf aanvallers het te voet gevlug en verskeie items geneem, waaronder die tannie se bril, selfone, ’n televisiestel en ’n hekmotor. “Die aanvallers het geld en vuurwapens geëis en die paartjie se hande met gordynkoord vasgebind,” sê Van Heerden. Die man se lewensmaat is nie aangerand nie.

’n Voertuig het vermoedelik naby die plaas vir hulle gewag. 

Die bande van ’n bakkie op die plaas se wiele is sowat ’n week voor die aanval gesteel. Tydens daardie voorval is hul honde vergiftig – twee is dood, maar een het oorleef. 

‘Ná ure se gesukkel geslaag om sy beseerde hande met sy mond los te maak’

Van Heerden vermoed dieselfde groep is vir albei voorvalle verantwoordelik en glo hulle het moontlik binne-inligting gehad.

Ná ure se gesukkel het die man daarin geslaag om sy beseerde hande met sy mond los te maak. “Nadat hy die tannie se hande losgemaak het, het sy hulp by die bure gaan soek. Dit moes reeds daglig gewees het; ek skat omtrent 07:00.”

Van Heerden is kort daarna na die plaas ontbied. “Die polisie, ’n privaat sekuriteitsmaatskappy en AfriForum het almal op die toneel gereageer.”

Die bakkie se wiele is glo 'n paar dae voor die aanval gesteel. Foto verskaf

’n Ambulans is ontbied, maar die man het aanvanklik geweier om hospitaal toe geneem te word. Teen Sondagoggend is hy egter na ’n mediese instelling geneem, waar hy later daardie dag gesterf het.

“Sy bene was baie geswel,” sê Van Heerden. Die polisie stel ondersoek in, sê kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die familie het privaatheid versoek. Die name van die egpaar is nog nie bekendgemaak nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.