Central SA
Moordsaak van Bloemfonteinse oudlanddros tot einde Junie uitgestel─── ZENANDE MPAME 10:02 Wed, 04 Jun 2025

Die twee verdagtes, wat daarvan aangekla word dat hulle ’n Bloemfonteinse oudlanddros vermoor het, verskyn Maandag 30 Junie in die Bloemfonteinse landdroshof vir die oorhandiging van hul akte van beskuldiging.
’n Akte van beskuldiging is ’n formele, geskrewe dokument wat ’n persoon van ’n misdaad aankla. Dit stel die beskuldigde in kennis van die aanklagte teen hom of haar en dui die aanvang van ’n strafregtelike verhoor aan.
Letiscia Adams (42) en Jan Deal (51) het Maandag (2/6) in dieselfde hof verskyn en is sedert hul inhegtenisneming in Januarie in aanhouding. Albei se borgtogaansoek is geweier.
Die twee het langer as 17 jaar op Bester se plaas gewerk en daar gewoon. Hulle is op Sondag 12 Januarie in hegtenis geneem, dieselfde dag waarop Bester se liggaam met veelvuldige wonde gevind is. Bester was ’n voormalige landdros en het ook vir die Vrystaatse Cheetahs en Griekwas as stut uitgedraf.
Die twee het langer as 17 jaar op Bester se plaas gewerk en daar gewoon. Foto: Zenande Mpame
“Die saak is tot 30 Junie uitgestel vir die oorhandiging van die akte van beskuldiging,” sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder. “Borgtog is vir Adams geweier, en Deal het sy aansoek laat vaar nadat sy adres nie bevestig kon word nie.”
Die twee word aangekla van roof met verswarende omstandighede, moord en regsverydeling.
Sers. Jan Greeff, die ondersoekbeampte, is in Februarie gevra om die drie aanklagte teen Deal en Adams toe te lig:
- Roof met verswarende omstandighede: Bester se Absa-bankkaart is gesteel en later in Adams se besit by die polisiekantoor gevind. Een van sy selfone is steeds vermis en kontant was uit sy beursie weg.
- Moord: Deal het aan die polisie erken dat hy Bester met ’n graaf en tuinvurk aangerand het.
- Regsverydeling: Die verdagtes het versuim om aan die polisie te rapporteer dat Bester oorlede is. Hy het moontlik een of selfs twee nagte gelê voordat sy liggaam ontdek is, aangesien dit reeds in ontbinding was.
Piet Bester se toga wat hy as landdros gedra het, het by sy gedenkdiens gehang. Foto: YouTube
Die vermeende moordwapens – ’n graaf en ’n tuinvurk – is ná die voorval teruggevat na die stoorkamer, weg van die toneel.
Tydens hul borgtogaansoek het Greeff getuig dat Adams en Deal op die dag van die moord beskonke was. Hy het ook gesê Deal en Bester het ’n uitval gehad, hoewel Deal dit nooit vroeër aan die polisie gemeld het nie.