Central SA
Man in aanhouding ná Klerksdorp-aanranding─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:30 Wed, 04 Jun 2025

’n Noordwester, wat op ’n moordklag in die hof verskyn het ná ’n aanranding in Klerksdorp, bly in aanhouding totdat hy na verwagting Maandag (9/6) om borgtog sal aansoek doen.
Braam Rees van der Westhuizen (25) het Maandag (2/6) in die Klerksdorpse landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord op Micheal Deysel (26), sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.
Van der Westhuizen het hom Vrydag (30/5) aan die polisie oorgegee nadat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is. Beamptes kon hom nie Donderdag tuis opspoor nie.
Michael Deysel is tans kritiek, maar stabiel. Foto verskaf
Deysel, ’n kelner by ’n plaaslike restaurant, is na bewering Saterdagaand (17/5) aangeval deur Van der Westhuizen, die huidige kêrel van sy eksmeisie. Intussen is bevestig dat Deysel se eksmeisie sy kind verwag.
’n Ooggetuie het voorheen aan OFM Nuus gesê dat die voorval omstreeks 23:15 plaasgevind het. “Ek het ’n geskree, ’n gevloek en toe ’n harde geluid gehoor wat my vrou gesê het soos ’n geweerskoot geklink het.
Verdagtes het getuie hoor skree
“Ek het buitentoe gehardloop om te sien wat aangaan en gesien hoe ’n man iemand (later geïdentifiseer as Michael) oor die teerpad sleep. Ek het dadelik vir my vrou geskree om die polisie te bel.”
Die ooggetuie sê die verdagtes het hom hoor skree, waarna hulle Deysel op die sypaadjie gelos het. “Hulle het na ’n motor gehardloop en weggejaag voordat ek hulle kon gekeer het.”
Die verdagtes het die ooggetuie glo hoor skree en weggejaag. Foto verskaf
Deysel het erg gebloei weens kopbeserings. “My vrou het komberse gebring, en ons het dit gebruik om die bloeding te probeer keer. Ons het die polisie omstreeks 23:20 gebel, maar hulle het eers om 23:45 opgedaag – en geen hulp aangebied nie.”
Die ooggetuie het na Deysel se foon gesoek om sy familie te bel, maar kon dit nie vind nie. “Ek het teruggegaan na die toneel en dit gevind, waarna ek probeer het om sy pa te bel, maar ek kon hom nie in die hande kry nie.”
Bloeding op die brein
Hy het toe ’n vriend van Deysel gebel wat hom hospitaal toe geneem het. Volgens die getuie het die ambulans eers opgedaag nadat hy omstreeks 02:00 van die hospitaal teruggekeer het.
Volgens ’n bron is Deysel sedertdien uit die Tshepong- Tersiêre Staatshospitaal in Klerksdorp ontslaan, waar hy in ’n kritieke maar stabiele toestand met bloeding op die brein opgeneem is.
'n Saak van poging tot moord word ondersoek. Foto verskaf
“Michael word elke dag sterker, maar hy het tans geheueverlies, wat ’n groot bron van kommer vir ons en die dokters is,” sê Bonita van der Westhuizen, Deysel se werkgewer. Sy gesig was so geswel ná die aanval dat dit nie eens soos hy gelyk het nie.
“Jy behandel selfs nie ’n wilde dier so nie. Ek kan my nie die pyn indink wat hy deurgemaak het nie.”
Sy glo geregtigheid sal seëvier. “Dankie vir almal se besorgdheid … Daar is baie wat omgee, en vir nou hou ons vas aan geloof.”