On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Bouwerk aan NWU se mediese skool sal in 2028 voltooi wees

───   ZENANDE MPAME 11:55 Wed, 04 Jun 2025

Bouwerk aan NWU se mediese skool sal in 2028 voltooi wees | News Article
Bouwerk aan NWU se mediese skool sal na verwagting in 2028 voltooi wees. Foto verskaf

Die nuwe mediese skool van die Noordwes-Universiteit (NWU) wil sy eerste studente in 2028 in Potchefstroom verwelkom.

Bouwerk aan Suid-Afrika se elfde mediese skool het Dinsdag (3/6) amptelik begin op die Potchefstroomkampus toe prof. Bismark Tyobeka, rektor en visekanselier, die eerste sooi gespit het.

Die NWU wil help om die ernstige tekort aan mediese professionele persone in Noordwes én die land die hoof te bied. Die mediese skool is genoem na Desmond Tutu en heet die NWU Desmond Tutu Skool vir Geneeskunde, ’n naam wat wyd verwelkom is vanweë sy simboliek en plaaslike betekenis.

“Ons staan op die grond wat binnekort gaan omskep word in ’n monument van gesondheidstegnologie, mediese tegnologie en mediese kennis,” het Tyobeka gesê. “Dit is nie bloot ’n simboliese oefening om hier te wees nie, maar beteken ons teken ons naam in die geskiedenisboeke.


“Dit is nie net ’n infrastruktuurprojek nie, dit is ’n belofte aan toekomstige geslagte – ’n verbintenis om op te voed, te genees en op te hef. Soos ons vandag die eerste sooi spit, kom ons doen dit met doelgerigtheid en dien altyd met deernis.”

Vyftig studente sal in 2028 hulle eerste jaar aan die instelling kan begin. In die tweede jaar sal die skool 80 inneem, en ná vier jaar sal daar jaarliks honderd eerstejaarstudente ingeskryf wees.

Die instelling, wat teen 2027 voltooi behoort te wees, sal die universiteit se primêre akademiese en intellektuele sentrum wees. Die aanvanklike jare van geneeskundige opleiding sal daar plaasvind, waarna dit uitgebrei sal word na kliniese platforms na die Tshepong- en Klerksdorp-hospitaal.

Die mediese skool het in Desember 2023 goedkeuring ontvang van dr. Joe Phaahla, gesondheidsminister, om met die proses voort te gaan en aan alle vereiste goedkeurings- en akkreditasievereistes te voldoen.

“Dalk sal sommige van ons nie meer hier wees wanneer dit eendag funksioneer nie, maar dié wat aangegaan het, sal altyd kan terugkyk en sê: Ek was deel daarvan. Hierdie is ’n fondament vir geslagte wat nog kom,” het Tyobeka gesê.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.