Central SA
Gesondheid gekap oor stadige reaksie op Vrystaatse lykskouingskrisis─── ZENANDE MPAME 06:00 Thu, 05 Jun 2025

Die opposisieparty in die Vrystaat sê hy sal die lykskouingskrisis na die Menseregtekommissie neem as die situasie nie gou verbeter nie.
Die DA wil Monyatso Mahlatsi, LUR vir gesondheid, aanspreeklik hou vir die departement se stadige en onbevredigende hantering van die groeiende krisis in die provinsie.
Die Vrystaatse regering se lykshuis in Bloemfontein is in Oktober deur die departement van arbeid en indiensneming gesluit nadat inspekteurs waterlekke ontdek het. Dit het ’n ernstige gevaar ingehou, aangesien kontak met blootgestelde elektriese drade ernstige beserings of selfs sterftes kan veroorsaak.
“Ons sal onmiddellike duidelikheid van die LUR verlang oor hoe hy beplan om noodsaaklike forensiese patologiedienste intussen te verseker,” sê David Masoeu, provinsiale DA-gesondheidswoordvoerder, “sonder om die waardigheid van die oorledenes of die regte van treurende families in gedrang te bring.
“Ons is daartoe verbind om aanspreeklikheid by die departement af te dwing, en ons sal die saak na die Menseregtekommissie neem as daar geen verbetering is nie.”
Mahlatsi het Maandag 26 Mei met die departement van arbeid en indiensneming beraadslaag om die uitstaande probleme op te los wat die opheffing van die verbodskennisgewing vertraag wat tot die sluiting van die lykshuis gelei het.
Daar is tydens die vergadering bekend gemaak dat forensiese patologiedienste tans ’n agterstand van sowat 35 lykskouings het, wat tans by aangewese instellings in Welkom en op Kroonstad en Sasolburg uitgevoer word.
Tydens die vergadering is ook genoem dat die meeste probleme wat tot die verbod gelei het, reeds voldoende aangespreek is.
Die verhitting-ventilasie-en-lugversorgingstelsel bly egter ’n groot bron van kommer, aangesien die voorsieningsbestuurseenheid steeds besig is om ’n bevoegde diensverskaffer te kry om die nodige herstelwerk uit te voer.
“Die departement van gesondheid is steeds hoopvol dat volgehoue samewerking met die departement van arbeid tot tydige oplossings sal lei en verdere vertragings sal voorkom,” sê Mondli Mvambi, gesondheidswoordvoerder.
“Die gesprekke het positief afgesluit. Albei departemente het hulle daartoe verbind om toe te sien dat regeringsinstellings aan beroepsgesondheids- en veiligheidsregulasies voldoen.”
Hierdie verbintenis is daarop gemik om personeel te beskerm, terwyl dit terselfdertyd reageer op die dringende diensleweringsbehoeftes van die gemeenskappe wat bedien word, sê hy.