On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Niemand nog aangekeer ná brandstigting by Noord-Kaapse kollege

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:03 Thu, 05 Jun 2025

Niemand nog aangekeer ná brandstigting by Noord-Kaapse kollege | News Article
Die kollege brand. Skermgreep uit video

Niemand is nog in hegtenis geneem nie nadat ’n groep studente ’n brand gestig het by ’n tegniese kollege in Kimberley.

Die Northern Cape Urban TVET-kollege het Woensdag (4/6) groot skade gelei nadat ’n gebou deur betogers aan die brand gesteek is, sê brig. Mashay Gamieldien, provinsiale polisiewoordvoerder. “ ’n Groep van ongeveer 300 ontevrede studente het om 16:00 by die kollege bymekaargekom en antwoorde op verskeie klagtes geëis, insluitend NSFAS-betalings.”


Hulle het Longstraat begin blokkeer en werknemers en die sentrale administratiewe kantoorgebou met klippe bestook. Volgens Gamieldien het hulle na bewering ook die kantoorgebou aan die brand gesteek, wat skade aan die gebou en die inhoud daarvan veroorsaak het. Die brandweer het die brand geblus.

Volgens die Brandstigtingsondersoekeenheid is brandstigting die oorsaak van die brand en gevolglike skade. 

OFM Nuus het vroeër berig die studente het op 12 Mei oor voortgesette vertragings in die uitbetaling van NSFAS-toelaes en laat huurbetalings aan hul verhuurders betoog.

Die kollege het bevestig dat van die studenteraadslede reeds verskeie kere beraadslaag het met belanghebbendes oor die voortdurende betalingsprobleme. Geen bevredigende antwoorde is nog verskaf nie.

“Ons is in hierdie penarie van NSFAS-toelaes. As die studenteraad het ons julle griewe aangehoor en ons staan in solidariteit met alle studente van NCU TVET Kollege,” het die raad gesê.

In ’n verklaring het hulle beklemtoon die optrede gaan nie net oor finansiële probleme wat studente ervaar nie, maar ook oor die skade wat aan hul verhoudings met hul verhuurders aangerig is en die toenemende probleme om goeie verblyf te bekom. Studente is aangemoedig om die staking met dissipline en waardigheid uit te voer.


Volgens die ondersoekeenheid word daar beweer dat die betogers doelbewus dele van die gebou aan die brand gesteek het, wat aansienlike skade aan beide die struktuur en die inhoud daarvan veroorsaak het.

Geen beserings is aangemeld nie, sê Gamieldien. “Die groep het uiteindelik uiteengegaan, en die polisie hou steeds die situasie dop.”

Beamptes van Kimberley se openbareorde-eenheid is na die toneel ontplooi, en ’n skokgranaat is afgevuur in ’n poging om die oproerige groep uiteen te jaag. “Kimberley-polisie het ’n brandstigtingsaak vir ondersoek geregistreer,” sê Gamieldien.

Wat is NSFAS?

Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) is ’n Suid-Afrikaanse regeringsprojek wat finansiële bystand bied aan kwalifiserende studente by openbare universiteite en TVET-kolleges.

NSFAS dek klasgeld, verblyf en lewenskoste, met die doel om hoër onderwys toeganklik te maak vir studente uit lae-inkomste huishoudings. Onlangse probleme met betalingsvertragings het egter betogings en kritiek regoor die land ontketen.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.