Central SA
Kuruman-boer se moordsaak van rol geskrap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:19 Thu, 05 Jun 2025

Die NVG word beskuldig van “ ’n skandelike onreg” nadat daar vandeesweek besluit is om die saak van die moord op Hendrik Venter (81), ’n boer van Kuruman, van die hofrol te skrap.
Venter is in September verlede jaar op sy plaas wreed om die lewe gebring. Hy het sy eiendom tussen Kuruman en Hotazel om 08:30 verlaat om sy beeste te versorg. Sy liggaam is omstreeks 09:45 langs sy voertuig gevind met wonde aan sy kop, het Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, gesê.
Die besluit om die saak te laat vaar, het nou daartoe gelei dat die beskuldigdes hangende verdere ondersoek vrygelaat is, sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, al het senior aanklaers maande lank onderneem om die saak weens die erns daarvan te eskaleer.
LEES OOK: Kuruman: Vermeende moordenaars van bejaarde boer bly in aanhouding
AfriForum doen ’n beroep op die NVG en die polisie om die onreg onmiddellik reg te stel, die saak dringend te hervat en toe te sien dat geregtigheid nie langer uitgestel of ontsê word nie.
“Die burgerregteorganisasie het uitgereik na die Venter-familie en hul regsverteenwoordiger en ondersoek tans die prosessuele gebreke wat tot dié uitkoms gelei het,” sê Broodryk.
Chroniese vertragings, administratiewe probleme en die afwesigheid van die wil om te vervolg, het die saak tot dusver gekenmerk. Al was geen regshulp-verteenwoordiger tydens die verhoor vir die beskuldigdes teenwoordig nie, het die staat nie beswaar aangeteken nie, geen verduideliking gebied nie en ook nie enige stappe gedoen om die integriteit van die verrigtinge in stand te hou nie.
Hendrik Venter se begrafnis. Skermgreep: Facebook
“Die landdros het hierna die saak van die hofrol verwyder en stagnante ondersoek as die rede daarvoor voorgehou,” sê Broodryk.
Benewens dié probleme het ernstige vertragings in die verwerking van forensiese bewysstukke, wat ’n noemenswaardige bydrae tot die ineenstorting van die saak gelewer het, intussen aan die lig gekom, sê Broodryk.
“Die polisie ondervind reeds jare lank agterstande in die verwerking van forensiese bewysstukke en toon geen betekenisvolle vordering om die saak te beredder nie.
“AfriForum het op sy beurt ook al telkens gepleit vir die gebruik van privaat forensiese laboratoriums om die proses te bespoedig en vertragings in kriminele sake te beperk, maar dit blyk dat die polisie genoeë is met die huidige wanfunksionering, selfs al beteken dit dat moordenaars skotvry loop.”
Foto: Andries Groenewald/Landbou.com
Dit nie net ’n administratiewe mislukking nie – dit is ’n algehele onreg, meen Broodryk. “Wanneer ’n burger brutaal vermoor word by sy plaashek en die beskuldigdes loop skotvry weens prosessuele passiwiteit en ’n forensiese stelsel wat ineen stort, moet daar tereg gevra word aan wie se kant die regstelsel is.”
AfriForum beklemtoon die Venter-saak dui op ’n patroon gekenmerk deur nalatigheid en ’n afwesigheid van politieke belangstelling in plaasaanvalle. Die versuim om die verwydering van die saak teen te staan, ten spyte van ondernemings om dit na ’n streekshof te eskaleer, dra ’n bittere boodskap aan slagoffers oor wat benadruk dat hul lyding nie prioriteit geniet nie.
“Die Venter-gesin, en die talle ander wat soortgelyke verliese gely het, verdien meer as leë sekerheid. Hulle verdien aanspreeklikheid, dringendheid en optrede,” sê Broodryk.
OFM Nuus cg