Central SA
Ouditeur-Generaal, Centlec beskuldig van vervalste verslae─── KEKELETSO MOSEBETSI 11:57 Thu, 05 Jun 2025

Die kantoor van die Ouditeur-Generaal (OG) in die Vrystaat word daarvan beskuldig dat hy met werknemers en konsultante van Centlec saamgewerk het om oudituitkomste te vervals en finansiële wanbestuur te verbloem.
Sleutelfigure in die OG se Vrystaatse kantoor, veral die hoofouditeur Nthako Saohatsi, het na bewering ouditverslae gemanipuleer om Mangaung se kragvoorsiener gunstige uitsprake te gee, ten spyte van toenemende bewyse van bedrog en operasionele mislukkings.
Saohatsi is aangestel sonder dat sy aan die minimum kwalifikasies voldoen, beweer Patricia Kopane, Vrystaatse voorsitter van ActionSA. Sy het glo haar amp gebruik om Centlec se uitvoerende hoof te beskerm en om bevindings van ernstige onreëlmatighede in ouditverslae te onderdruk, onder meer die onwettige weiering om afgedankte personeel vir onbenutte verlof te vergoed, glo in opdrag van die uitvoerende hoof.
Een van die ernstigste bewerings is dat Sam Zziwa, ’n voormalige OG-werknemer, wat later by Centlec aangesluit het, en Zoe Williams, ’n voormalige PricewaterhouseCoopers-ouditeur, wat as finansiële hoof heraangestel is, saam met OG-amptenare gewerk het om ouditresultate te beïnvloed.
Hierdie inmenging het glo gekeer dat Centlec ’n finansiële vrystelling ontvang, ’n baie negatiewe ouditbevinding, en het in plaas daarvan gelei tot ongekwalifiseerde menings, selfs al het Centlec se finansiële en operasionele toestand verswak.
Kopane sê die OG-span, veral onder leiding van Sam Zwane, moet verantwoording doen vir hoe hierdie samewerking met Centlec-werknemers so lank kon voortduur sonder ingryping.
Williams se heraanstelling as finansiële hoof wek ook kommer, veral omdat haar vorige afdanking Centlec na raming R2 miljoen in regskoste uit die sak gejaag het weens prosedurele onreëlmatighede. “Dieselfde raad wat haar vroeër afgedank het, het haar nou weer aangestel; dit is onverklaarbaar,” sê Kopane.
Die Centlec-raad, onder voorsitterskap van Casca Modise Mokitlane, is sterk gekritiseer. Volgens interne bronne is dit die swakste raad in die entiteit se geskiedenis, met ’n gebrek aan onafhanklikheid, verantwoordbaarheid en kundigheid.
Kopane sê daar is bewerings van nepotisme en politieke begunstiging, waar familielede van senior amptenare en makkers van die uitvoerende hoof poste gekry het in ruil vir hulp om fluitjieblasers en kritiese personeel uit die pad te ruim.
Sy verwys ook na LQ Technologies, ’n maatskappy glo verbind aan Bernard Phitsane, wat steeds kontrakte van Centlec ontvang ten spyte van sy betrokkenheid by tegniese mislukkings wat die verkoopstelsel beïnvloed het.
Senior aanstellings in Centlec se ingenieursafdelings – Justice Mojaje en Boitumelo Motswene – sou glo polities gemotiveerd wees. Die OG se kantoor in die Vrystaat word daarvan beskuldig dat hulle versuim het om hierdie onreëlmatige aanstellings as rooi vlae aan te dui.
Diepgewortelde sameswering
Verder is die afdanking van Katleho Koao uit die finansiële afdeling glo ’n vorm van wraak. “Sy afdanking was vermoedelik vergeldend, gebaseer op onbevestigde bewerings dat hy inligting uitgelek het. Ironies genoeg het Koao vroeër vir Zoe Williams gehelp tydens haar eerste termyn toe sý glo inligting uitgelek het oor ANC-amptenare,” sê Kopane.
Sy sê die ontploffende fluitjieblaserbewerings dui op ’n diepgewortelde sameswering tussen senior amptenare van Centlec en die OG se Vrystaatse kantoor.
Centlec wil nie kommentaar lewer op die aantygings nie en ’n navrae is aan die OG se Vrystaatse kantoor gerig.