On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse militêre eiendomme binnekort beveilig

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:15 Fri, 06 Jun 2025

Noord-Kaapse militêre eiendomme binnekort beveilig | News Article
Een van die vervalle huise. Foto: DA

Byna 200 militêre eiendomme in die Noord-Kaap sal binnekort beveilig word ná voorvalle van vandalisme.

Die DA het die militêre behuising in die Postdene-gebied, Postmasburg, in Mei geïnspekteer en dit in ’n vervalle toestand aangetref, sê James Boucher, DA-raadslid in die Tsantsabane-munisipaliteit.

“Leë huise is beset deur rondlopers en misdadige elemente wat aansienlike skade aangerig het. Vensters, plafonne, kaste en krane is gestroop. Tydelike woonwaparkhuise, wat ’n dekade gelede onbewoonbaar verklaar is, is ook nie gesloop nie. Dit het ons aangespoor om die minister om ingryping te nader.”

Ná die vandalisme het Angie Motshekga, minister van verdediging en militêre veterane, belowe om weermageiendomme op Postmasburg te beveilig.

Byna 200 huise gaan beveilig word. Foto: DA

Volgens ’n parlementêre reaksie wat deur Ofentse Mokae, Noord-Kaapse DA-lid van die nasionale raad van provinsies, ontvang is, is wagte sedertdien by die militêre eiendomme gestasioneer om vandalisme en die ongemagtigde besetting van leë huise te bekamp, sê Boucher. “Daar is 182 eiendomme wat aan die weermag toegeken is, waarvan 151 huise aan militêre lede gegee is.”

’n Voorwaardelike assessering van die eiendomme in Postmasburg is in Maart gedoen, sê Motshekga.

“ ’n Brief is ook by die batebestuurseenheid ingedien waarin magtiging versoek word om die uitgebrande woonwaparkhuise in Februarie af te skryf. Die proses vir die sloping van die huise is egter steeds aan die gang,” sê Boucher.

Verwaarloosde eiendomme moet herstel word

As gevolg van elektriese foute het twee van die woonwaparkhuise verlede jaar aan die brand geslaan. “Die eerste brand het ’n onbewoonde huis vernietig. Die tweede brand het die lewens geëis van die vrou en dogter van ’n sersant wat by die Lohatlha-opleidingseenheid buite Postmasburg gestasioneer was.”

Die DA sê Mokae sal ook druk op die minister plaas om die verwaarloosde eiendomme te herstel en skoon te maak.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.