On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Bewys geëis dat Noordwes-vrou skadevergoeding kry ná padongeluk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:26 Wed, 11 Jun 2025

Bewys geëis dat Noordwes-vrou skadevergoeding kry ná padongeluk | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Bewyse word nou geëis dat die miljoene in skadevergoeding wel betaal is aan ’n verpleegster van Noordwes nadat sy verlam is toe haar voertuig ’n slaggat getref het.

Die R26,6 miljoen-vergoedingseis, wat teen die provinsiale departement van openbare werke en paaie toegeken is, is reeds vroeër vanjaar deur die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, toegestaan, sê Freddy Sonakile, die DA se woordvoerder oor openbare werke en paaie.

“Hierdie enorme skadevergoeding het nou eers aan die lig gekom omdat die departement versuim het om die skadevergoedingsbedrag binne 14 dae na die hofbevel wat in Februarie uitgereik is, te betaal. Gevolglik het die eiser se prokureur ’n bevel verkry om die departement se bates te konfiskeer.”

Foto ter illustrasie: iStock

Die vrou het 25 jaar lank voor die ongeluk as verpleegster gewerk. In 2016 is sy medies ongeskik vir werk verklaar. Sy sal nooit weer kan werk nie. Die hof se beslissing was gegrond op verslae van 15 kundiges, onder wie dokters, sielkundiges en ’n aktuaris, sê Sonakile

“Die DA eis nou dat die departement bewys lewer dat die eis inderdaad betaal is, tesame met ’n volledige lys van hangende en potensiële regseise wat verband hou met padskade – insluitend die spesifieke bedrae wat betrokke is.”

Hy sê elke slaggat wat nie herstel word nie, is ’n fisieke gevaar, sowel as ’n regs- en finansiële tydbom.

‘Voortdurende versuim om die provinsie se padinfrastruktuur te onderhou’

Die totale vergoedingsbedrag van R26 691 625 is soos volg bereken:

  • Vorige mediese koste: R128 453
  • Toekomstige mediese koste: R19 520 267
  • Vorige en toekomstige verlies aan inkomste: R4 242 905
  • Algemene skade: R2 800 000

“Die ongeluk is nie net ’n tragiese geval van persoonlike lyding nie, maar ’n ernstige waarskuwing oor die finansiële ramp waarop die departement afstuur,” sê Sonakile.

“Hierdie enkele eis verbruik reeds ’n aansienlike deel van die departement se begroting. Dit is die direkte gevolg van die departement se voortdurende versuim om die provinsie se padinfrastruktuur te onderhou. 

Versuim stel lewens in gevaar

“Hierdie versuim stel nie net lewens in gevaar nie, maar stel ook beide die departement en belastingbetalers bloot aan regseise wat honderde miljoene rande kan beloop.”

Die verpleegster, wie se naam nie in hofstukke bekendgemaak word nie, het op 3 November 2014 iewers in Noordwes ’n slaggat getref. Sy het beheer oor die voertuig verloor, wat gerol het.

Die hof het bevind Noordwes se departement van openbare werke en paaie is geheel en al aanspreeklik vir die vrou se verskriklike beserings en die langtermyngevolge, sê Sonakile. “Die vrou is nou aan ’n rolstoel gekluister en heeltemal afhanklik van haar dogter.

Foto ter illustrasie: iStock

“Haar beserings sluit in gebreekte werwels, ’n afgesnyde rugmurg wat paraplegie tot gevolg het, en veelvuldige frakture: beide heupe was gebreek en ontwrig, haar regterskouer, verskeie regterribbes, linkerdy, regterskouerblad en regtersleutelbeen was ook gebreek.”

Daar sal ook deurlopende koste wees vir doktersbesoeke, antibiotika vir urienweginfeksies, velversorgingsprodukte, fisioterapie en pynmedikasie,” voeg Sonakile by en sê die departement het die eis nie betwis nie. 

In die hof het dit bloot gesê dat die kundige verslae op gemenereg gebaseer was en nie betwis kon word nie. ’n Kostebevel is ook teen die departement toegestaan.

Die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: moneyweb

“Ek sidder om te dink wat die finansiële implikasies sal wees as bykomende eise van hierdie aard na vore kom. As een eis meer as R26 miljoen kos, hoe sal die departement meer sulke uitgawes binne die bestaande begroting absorbeer sonder om dienslewering in ander gebiede ernstig te beïnvloed?”

Luidens GroundUp verloor die Padongelukfonds (POF) miljoene weens die versuim om hofsake behoorlik te verdedig, wat lei tot verstekvonnisse. 

Regters het die POF gekritiseer omdat hulle nie regsverteenwoordigers stuur of hulle van instruksies voorsien nie, wat lei tot onbetwiste eise en verdere verliese wanneer die POF probeer, en dikwels misluk, om hierdie vonnisse om te keer.

Vals inligting in hofdokumente

Volgens die berig het die fonds in een week alleen meer as R75 miljoen in laaste weens uitsprake in die gesig gestaar. ’n Regter het die POF ook veroordeel vir die indiening van valse inligting in hofdokumente, wat voortspruit uit interne wanbestuur. 

Ten spyte van herhaalde waarskuwings en spesiale regsgeldige toegeeflikheid, gaan die POF voort om sy verantwoordelikhede te wanbestuur.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.