On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Verdagte gesoek weens moord op jong pa van Vaal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:19 Wed, 11 Jun 2025

Verdagte gesoek weens moord op jong pa van Vaal | News Article
Armand Swart is meer as ’n jaar terug vermoor. Foto Facebook/Armand Swart

’n Lasbrief is uitgereik vir die inhegtenisneming van ’n verdagte, wat verbind word met die moord op ’n ingenieur van die Vaaldriehoek.

Armand Swart (30), ’n pa van twee, is op 17 April verlede jaar in ’n spervuur van 23 koeëls doodgeskiet.

Lucky Boitumelo Molefe word nou gesoek in verband met die moord, wat vermoedelik gekoppel is aan ’n Transnet-tenderkorrupsiesaak wat Swart se werkgewer aangemeld het, sê lt.kol. Vincent Mukhathi, provinsiale polisiewoordvoerder.

Veelvuldige skietwonde

OFM Nuus het vroeër berig Swart het by Q Tech Engineering Company in Vereeniging gewerk. Hy is, terwyl hy in sy Ford Ranger-bakkie buite sy werkplek gesit het, in ’n lokval gelei het deur twee aanvallers wat ’n wit Hyundai i20 bestuur het. 

Hy het veelvuldige skietwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar.

Die noodlottige skietery helder oordag gedurende die oggendspitstyd is op kringtelevisiemateriaal vasgevang, 13 dae nadat die korrupsieverslag op 4 April ingedien is.

Lucky Boitumelo Molefe is glo 'n verdagte en word deur die polisie gesoek. Foto: SAPD

Luidens berigte is die moord gereël om Swart stil te maak nadat hy bedrieglike aktiwiteite wat verband hou met ’n Transnet-tenderooreenkoms, blootgelê het. 

“Drie individue, een van hulle ’n polisiespeurder, is op dieselfde dag as die moord in hegtenis geneem. Owerhede het verskeie selfone, ’n voertuig en gebruikte patrone, wat vermoedelik van ’n AK-47 en ’n 9 mm-vuurwapen afkomstig is, beslag gelê,” sê Mukhathi

Die verdagtes – ao. Michael Pule Tau (54), Musa Kekana (36), en Tlego Floyd Mabusela (56) – is op 8 Mei in Vereeniging se landdroshof borgtog geweier. Molefe se oom, Katiso (K) Molefe is in Desember in hegtenis geneem. Molefe, wat van Johannesburg afkomstig is, word sedertdien gesoek.

Speurder van Vaaldriehoek verdagte in jong pa se moord | News Article

Armand en sy vrou, Velisha. Foto: Facebook/Armand Swart

Die ander vier verdagtes, wat steeds in aanhouding is, se saak is uitgestel en sal na verwagting in Augustus in die hooggeregshof in Palm Ridge verhoor word.

“Die polisie doen ’n beroep op Molefe om hom by die naaste polisiestasie oor te gee”, sê Mukhathi.

Enigiemand met inligting oor Molefe se verblyfplek word versoek om 063 695 8590 te skakel.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.