Central SA
Deneysville-egpaar vra hulp ná gasontploffing─── ZENANDE MPAME 15:07 Thu, 12 Jun 2025

’n Bejaarde egpaar van Deneysville vra hulp in die vorm van klere nadat hulle alles in ’n brand verloor het.
Die egpaar se huis het Maandag (9/5) afgebrand nadat hul gasverwarmer ontplof het en alles wat hulle besit het, verwoes is.
’n Familielid het vir hulle ’n naweekhuis in Tierkrans, Oranjeville, geleen en hulle woon nou daar. Assie van Aswegen was besig om die gasverwarmer aan te skakel vir sy vrou, Riekie, Maandagaand net voor sy sou gaan bad het, omdat dit koud was.
Assie en sy huurders en het alles verloor – alles het uitgebrand. Foto verskaf
Die oomblik toe hy dit aanskakel, het die gasbottel aan die agterkant ontplof en die vuur het die beddegoed, gordyne en die dak aan die brand gesteek.
“Toe was die hele huis in vlamme. Dit is ’n vierslaapkamerhuis met ’n aanliggende woonstel wat verhuur word. Ek en my huurders en het alles verloor – alles het uitgebrand.”
“Daardie aand moes my vrou in haar kamerjas uit die huis hardloop, want ons kon niks gryp nie. Gelukkig is niemand beseer nie, en ons drie borderkollies is ook ongedeerd.”
“Mense se hart is groot en oop, want soos ons nou praat, het ek reeds ’n vol stel klere ontvang en is ek reg. Ongelukkig kort Riekie nog baie winterklere, werksklere en skoene – dalk ook ’n handsak en beursie,” sê hy.
Die egpaar wag vir die brandweer om hulle met ’n brandoorsaakverslag by te staan sodat hulle dit vir die versekering kan indien. ’n Brandweerwa is van Sasolburg, sowat 20 minute vanaf Deneysville, ontbied en het gehelp om die brand te blus.
“Riekie het no. 6-skoene en ’n no. 38-broek nodig om haar in die koue weer te help,” sê Van Aswegen.
Die hele huis was in vlamme. Foto verskaf
In die winter is gasverwarmers gewild, maar indien dit nie reg gebruik word nie, hou dit ’n groter risiko vir brande en ontploffings in.
Property24 gee veiligheidsriglyne vir eienaars wat gasverwarmers gebruik:
- Hou enige vlambare items, soos meubels, gordyne, boeke en bokse, minstens een meter van die gasverwarmer af.
- Maak seker die verwarmer is afgeskakel voor jy die huis verlaat of gaan slaap.
- Maak seker daar is genoeg ventilasie in die vertrek waar dit gebruik word. Maak dadelik vensters en deure oop as dit bedompig begin voel.
- Kinders en troeteldiere moet weg bly van gasverhitters af – klein handjies of pootjies kan maklik op die verkeerde plek beland.
- Moenie klere of ander voorwerpe soos handdoeke oor die verwarmer hang nie.