Central SA
Vier wat glo ietermago verkoop op borgtog vrygelaat─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:46 Fri, 13 Jun 2025

Die ietermago is die mees onwettig verhandelde soogdier ter wêreld, dikwels gejag vir sy skubbe en vleis – in so ’n mate dat al agt spesies nou deur uitwissing in die gesig gestaar word.
Vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle probeer het om een van hierdie bedreigde diere te verkoop, is op borgtog vrygelaat en sal na verwagting weer op 25 Julie in Kuruman se landdroshof verskyn vir verdere ondersoek.
Refilwe Ejang (36), Bafenyi Baganeng (25), Rapelang Namusi (32) en Pogisho Motlhabane is borgtog van R500 elk toegestaan ná hul hofverskyning Dinsdag (11/6), sê ao. Nomthandazo Mnisi, Noord-Kaapse Valke-woordvoerder.
Die ietermago word in sommige lande vir medikasie gebruik. Foto: WWF
Die viertal het na bewering probeer om ’n lewende ietermago vir R250 000 te verkwansel. “Die polisie is ingelig oor die onwettige verkoop en het ’n gekoördineerde operasie van stapel gestuur waarby lede van die Valke op Kathu, blitspatrollielede, die openbareordepolisie van Kuruman en die plaaslike misdaadrekordsentrum betrokke was.”
Volgens Mnisi het ’n polisiebeampte hom as ’n potensiële koper voorgedoen en gereël om die verdagtes by die Oasis Casino op Kuruman te ontmoet.
“Die vier mans het na bewering in ’n wit VW Golf opgedaag en ’n vroulike ietermago tydens die vergadering aangebied. Onmiddellik nadat die transaksie beklink is, is die verdagtes in hegtenis geneem en in Kuruman se polisieselle aangehou.”
Die Wêreld-Natuurfonds (WWF) sê ietermago’s word ernstig bedreig as gevolg van onwettige handel, veral vir hul skubbe, wat in tradisionele medisyne gebruik word, en hul vleis, wat in sommige kulture as ’n delikatesse beskou word. Ten spyte van internasionale beskerming, loop die spesie steeds gevaar weens die hoë vraag daarna op swartmarkte – veral in dele van Asië en Afrika.
Volgens die WWF kan ’n ietermago R55 000 of meer op die swartmark werd wees, afhangende van die gewig en die vraag na die skubbe en vleis. Die skubbe alleen kan vir tot $600/kg (sowat R10 800) in dele van Asië verkoop, veral in China en Viëtnam.
Die ietermago is die mees onwettig verhandelde soogdier ter wêreld, dikwels gejag vir sy skubbe en vleis – soveel so dat al agt spesies nou met uitsterwing bedreig word.