On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

NWU-bestuur se stilswye oor ‘Kill the Boer’ verontrustend – AfriForum Jeug

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:00 Sun, 15 Jun 2025

NWU-bestuur se stilswye oor ‘Kill the Boer’ verontrustend – AfriForum Jeug | News Article
‘Kill the Boer’ is glo voor ’n koshuis op die Potchefstroomkampus gesing. Foto: Afriforum

Die hantering van die onlangse sing van die “Kill the Boer”-dreunsang op die NWU se Potchefstroomkampus is kommerwekkend, meen ’n jeugorganisasie.

’n Vergadering wat Vrydag (13/6) sou plaasvind met verteenwoordigers van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus oor die sing van dié dreunsang is weereens op kort kennisgewing uitgestel.

Dit is reeds die tweede keer wat die universiteit die vergadering uitstel wat met AfriForum Jeug versoek is, sê Yvonne Gerber van AfriForum Jeug.

OFM Nuus het vroeër berig die omstrede dreunsang “Kill the Boer” is Donderdagaand 5 Junie ná bewering voor ’n koshuis gesing.

Drie studente geïdentifiseer

Gerber het twee dae ná die voorval gesê AfriForum het intussen betroubaar verneem dat die NWU reeds drie studente in verband met die voorval geïdentifiseer het en dat ’n ondersoek na verwagting gaan volg.

Gerber sê gepaard met die NWU se versuim om die sing van die “Kill the Boer” in die openbaar te veroordeel, stuur die jongste uitstel ’n duidelike boodskap dat die universiteit geen erns het om studente se bekommernisse daaroor ernstig op te neem nie.

“AfriForum Jeug het verlede week ’n formele skrywe aan die visekanselier van die NWU gestuur om te versoek dat die universiteit die sing van hierdie dreunsang in die openbaar veroordeel én dit op die universiteit se kampusse verbied.”

Sy sê ’n week later het AfriForum Jeug nog nie eens erkenning van ontvangs van hierdie brief ontvang nie.

Veiligheid moet gerespekteer word

“Die NWU het geen verweer (nie) teen die feit dat hy al ’n week lank wik en weeg of hy die sing van ‘Kill the Boer’ wil veroordeel. Studente moet in ’n omgewing studeer waar hul veiligheid gerespekteer en hul vrese gehoor word. Die NWU behoort nie weg te skram van verantwoordelike en morele optrede teen die sing van hierdie dreunsang nie,” sê Gerber.

AfriForum Jeug het intussen ’n petisie begin waarin duisende studente reeds hulle teenkanting teen die sing van dié dreunsang uitgespreek het. “AfriForum Jeug doen ’n beroep op die publiek om hierdie petisie te onderteken sodat ’n veilige en inklusiewe akademiese omgewing vir almal op NWU-kampusse gekweek kan word.”

In April vanjaar het OFM Nuus berig dat die universiteit deur eise vir ’n formele ondersoek in die gesig gestaar is na aanleiding van ’n beweerde ritueel wat deur ’n sangoma uitgevoer is, wat na bewering gepaard gegaan het met bloedstollende gille.

LEES OOK: Geen bewyse van sangoma in NWU-koshuis

Die voorval het na bewering op 13 April omstreeks 22:10 in ’n vrouekoshuis op die Potchefstroomkampus plaasgevind, het Gerber aan OFM Nuus gesê. Die ritueel is na bewering op ’n mede-inwoner in ’n koshuiskamer uitgevoer en het glo gebede tot voorvadergeeste en ander tradisionele genesingspraktyke behels wat algemeen met sangomas vereenselwig word.

“Paniekbevange inwoners het AfriForum Jeug onmiddellik ná die gebeurtenis gekontak,” het Gerber gesê. “Klank- en video-opnames wat deur inwoners van die spesifieke koshuis aan AfriForum Jeug gestuur is, vang die gille duidelik vas, vermoedelik van die student wat deur die sangoma behandel word.”

In reaksie hierop het prof. Marlene Verhoef, NWU-registrateur, verklaar dat na ’n formele ondersoek geen bewyse gevind is dat ’n sangoma in enige universiteitskoshuis teenwoordig was nie.

‘Kulturele, spirituele uitdrukking belangrik’

Die universiteit het sedertdien sy breër verbintenis tot die respek vir godsdienstige en kulturele diversiteit op kampus herhaal.

Verhoef het beklemtoon dat die NWU se inklusiewe beleid alle aspekte van studente-identiteit dek, insluitend kulturele en spirituele praktyke, solank dit ooreenstem met universiteitsbeleide en nasionale wette.

’n Raamwerk word tans ontwikkel om die gepaste gebruik van kampusgeriewe vir godsdienstige en spirituele aktiwiteite te lei. “Die universiteit erken die belangrikheid van kulturele en spirituele uitdrukking en streef daarna om ’n omgewing te skep waar alle studente met respek en gelykheid behandel word,” het Verhoef gesê.

OFM Nuus mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.