On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Derde groep soldate uit DRK Maandagmiddag verwag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:30 Mon, 16 Jun 2025

Derde groep soldate uit DRK Maandagmiddag verwag | News Article
Die eerste groep soldate kom aan in Pretoria. Foto: SANW

Die derde groep Suid-Afrikaanse soldate wat uit die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) terugkeer, sal na verwagting op Jeugdag in hul vaderland aankom.

Na verwagting sal die groepe tussen 15:00 en 17:00 op die Lugmagbasis Waterkloof in Pretoria land, sê maj. Thabo Sello, weermagwoordvoerder.

’n Eerste groep van 249 Suid-Afrikaanse soldate het Saterdag geland nadat hulle deelgeneem het aan ’n omstrede en dodelike vredesending in die ooste van die DRK. Die tweede groep van 257 soldate het Sondag skuins voor 17:00 op die Lugmagbasis Waterkloof geland.

Hierdie eerste kontingent is gerepatrieer as deel van Suid-Afrika se gefaseerde onttrekking aan die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se sending in die streek.


Veertien SANW-lede het in Januarie gesneuwel in hewige gevegte tussen die Kongolese weermag en M23-rebelle in Goma. Sedertdien is beroepe gedoen vir die terugkeer van alle soldate in Goma na Suid-Afrika.

Die aanvanklike groep het Vrydagaand omstreeks 18:30 op die lugmagbasis in Pretoria geland. Hul aankoms is egter vertraag.

OFM Nuus het voorheen berig die repatriasie maak deel uit van ’n breër onttrekking na aanleiding van ’n opdrag van die SAOG-staatshoofdeberaad in Maart. Die beraad het gevra vir die afsluiting van die streeksending, wat daarop gemik was om die oorloggeteisterde oostelike DRK te stabiliseer.

Logistieke probleme

Oorspronklik is verwag dat 250 SA soldate op die Lugmagbasis Bloemspruit in Bloemfontein sou geland het, wat die onttrekking sou ingelui het.

Angie Motshekga, minister van verdediging, het die media by op die Tempe-basis in Bloemfontein toegespreek en verduidelik dat logistieke probleme in Tanzanië tot die vertraging gelei het.


Die troepe sou aanvanklik aan boord van ’n kleiner vliegtuig met ’n kapasiteit van 198 passasiers gegaan het. Dit is later verander na ’n groter vliegtuig, wat al 250 troepe gelyktydig kon vervoer.

Die soldate het van Goma in die DRK na Tanzanië gevlieg, maar is toe na ’n ander lughawe 400 km verder herlei om aan boord van die groter vliegtuig te gaan. Hulle het Saterdag in die vroeër ure in Bloemfontein aangekom.

Die vredesending is in Desember 2023 onder die SAOG-vaandel van stapel gestuur om stabiliteit en veiligheid in die mineraalryke maar onbestendige oostelike DRK te herstel.


Ten spyte van die sending se doelwitte, het die situasie versleg, hoofsaaklik weens toenemende geweld deur die Rwandese M23-rebellegroep.

Volgens Sello sal die terugkerende soldate nou ’n standaard-demobilisasering ondergaan wat mediese en sielkundige evaluasies sowel as herintegrasieondersteuning insluit.

Motshekga het gesê dat alle soldate na verwagting einde Junie in Suid-Afrika sal wees.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.