Central SA
Noord-Kaapse hof versoek om plaasmoord wel te verhoor─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:27 Mon, 16 Jun 2025

’n Formele brief is aan ’n Noord-Kaapse hof gerig om die saak rakende ’n vermoorde boer terug op die rol te plaas nadat dit geskrap is.
Die saak vanHendrik Venter (81), ’n boer van Kuruman, is vroeër vandeesmaand voorlopig van die hofrol geskrap weens voortgesette ondersoeke, en die beskuldigdes is daarna vrygelaat.
AfriForum het die senior staatsaanklaer in die Kuruman-landdroshof genader om sy ontevredenheid uit te spreek oor die gebrek aan geregtigheid vir Venter se familie, sê Thomasvan Dalen, Noord-Kaapse streekhoof.
Die burgerregteorganisasie eis nou formeel dat die senior staatsaanklaer korrektiewe stappe doen om te verseker geregtigheid geskied. AfriForum spreek ook sy kommer uit oor sistemiese mislukkings in die hof.
LEES OOK: Weduwee bevrees ná vrylating van man se vermeende moordenaars
“Hierdie mislukking van geregtigheid vir die Venter-familie en die breër publiek vereis onmiddellike optrede deur die owerheid. Die saak moet dus met die nodige dringendheid terug op die hofrol geplaas word en na die streekhof oorgeplaas word, soos senior lede van die … NVG ons herhaaldelik verseker het,” sê Van Dalen.
Willie Aucamp, nasionale DA-woordvoerder en woordvoerder vir die Venter-familie, het aan OFM Nuus gesê sy party is diep teleurgesteld oor die besluit. “Hierdie voorlopige terugtrekking blyk die gevolg te wees van ’n gebrekkige polisiedossier en substandaard-ondersoekwerk.
Familie se trauma vererger
Die DA het lt.genl. Koliswa Otola, Noord-Kaapse polisiekommissaris, genader dringend aandag aan die saak te gee. “Ons is ook in gesprek met verteenwoordigers van die NVG in Kimberley.”
Van Dalen sê hierdie ontwikkelinge het die trauma wat die Venter-familie ervaar het, net vererger en het die openbare vertroue verder ondermyn in die regstelsel se vermoë om voldoende op misdade van hierdie aard te reageer.
“Dit is onaanvaarbaardat sistemiese ondoeltreffendheid en ’n gebrek aan vervolgingsvermoë kan lei tot die opskorting van geregtigheid. AfriForum het dus ook versoek dat die NVG dringend die prosedurele en administratiewe mislukkings wat tot hierdie ineenstorting in die stelsel gelei het, hersien en daaroor verslag doen.”
Hendrik Venter. Foto: Maroela Media
Hy beklemtoon dat dit nie bloot ’n administratiewe oorsig is nie – dit is “’n geregtelike dwaling”. Die NVG is dit verskuldig aan die Venter-familie en aan elke ander familie wat deur plaasaanvalle verwoes is om vir geregtigheid te veg en te verseker dat hierdie sake nie opsygeskuif word nie.
“AfriForum staan gereed om die NVG op enige moontlike manier by te staan, insluitend skakeling met private forensiese laboratoriums en die verskaffing van regshulp, om te verseker dat hierdie saak effektief en sonder verdere vertraging verloop.”
Familie teleurgesteld
Volgens die regsfirma Duvenhage en Van der Merwe Inc., wat die Venter-familie verteenwoordig, doen die familie ’n beroep op die NVG en die Valke om dringende korrektiewe stappe te doen om te verseker dat geregtigheid nie net geskied nie, maar gesien word as geskied – met die erns wat die situasie vereis.
Die firma het beklemtoon dat die tydlyn van hofverskynings ’n kommerwekkende patroon van herhaalde vertragings en administratiewe mislukkings toon.