Central SA
Dringende hulp versoek om vermiste Vrystaatse tiener te vind─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:29 Mon, 16 Jun 2025

Die Vrystaatse LUR vir onderwys v ra inwoners moet help om die tiener, wat al elf dae vermis word, op te spoor nadat hy na bewering deur mans ontvoer is wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het.
Kamogelo Baukudi (19), ’n gr. 11-leerder aan die Martie du Plessis skool vir spesiale behoeftes in Fichardtpark, Bloemfontein, word sedert 5 Junie vermis.
OFM Nuus het vroeër berig Baukudi is na bewering Donderdag (5/6) na skool ontvoer deur mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het. Hy is by die skool opgelaai deur ’n bestuurder, wat vir sy ouers werk, en hulle is na bewering gevolg en naby Vereenigingrylaan voorgekeer, het brig. Athlenda Mathe vroeër gesê.
In polisie-uniforms geklee
“Een van die verdagtes, geklee in ’n polisie-uniform, het Daniel Malebatso, die bestuurder, na bewering meegedeel die vermoede bestaan dat die Suzuki Ertiga, wat hy bestuur het, gebruik word om dwelms mee te vervoer.”
Mathe sê Malebatso beweer dat hy ’n sirene gehoor het voordat die bestuurder van ’n wit Toyota Hilux GD-6- dubbelkajuitbakkie, toegerus met blou “polisieligte”, hulle afgetrek het.
Die verdagtes het die twee geskei en Malebatso opdrag gegee om vooruit te ry terwyl hulle saam met Kamogelo gevolg het, kwansuis na die Parkweg-polisiekantoor. Toe ’n vragmotor tussen die twee voertuie kom ry, het die Toyota Hilux verdwyn.
Die Vrystaatse premier, MaQueen Letsoha-Mathae, en brig. Motantsi Makhele in die hof. Foto: Zenande Mpame
MJ Maboya, onderwys-LUR, rig ’n openbare appèl om hulp met die opsporing van Baukudi. “Ons is diep bekommerd. Ons doen ’n beroep op alle lede van die publiek om die polisie, die familie en die skool te help om Kamogelo veilig huis toe te bring.”
Die departement het in samewerking met die polisie en ander belanghebbendes ’n toegewyde taakspan saamgestel om te help om die tiener op te spoor en die skuldiges aan die man te bring, sê Sibusiso Majola, onderwyswoordvoerder.
“Ons vra dat enigiemand met inligting – maak nie saak hoe gering ook al nie – na vore en die help in die ondersoek. Jou hulp kan ’n verskil maak.”
Veilige terugkeer hoogste prioriteit
Hy sê die departement staan bankvas saam met Baukudi se gesin in dié traumatiese tyd. “Ons hoogste prioriteit bly sy veilige terugkeer.”
Intussen het ’n verdagte, sers. Nzima Adoons (42), Vrydag (13/6) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering en afpersing.
Adoons het reeds Maandag vlugtig voorgekom, maar het in aanhouding gebly weens ’n bykomende aanklag van afpersing wat bygevoeg is nadat dit in die hof aan die lig gekom het dat lospryse van Baukudi se familie geëis word. Die bedrag is nie bekend nie.