Central SA
Vrystaatse gesondheid wil MIV-behandelingsgaping oorbrug─── ZENANDE MPAME 12:44 Tue, 17 Jun 2025

Die Vrystaatse gesondheidsdepartement wil die behandelingsgaping oorbrug onder mense wat reeds vir MIV getoets is.
Tydens die bekendstelling van die Close the Gap-veldtog teen MIV en TB is bekend gemaak die provinsie het ’n behandelingsgaping van meer as 22 000 mense, van wie byna 17 000 in Mangaung.
Volgens dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, ontvang slegs 79% van Suid-Afrikaners wat hul MIV-status ken behandeling, al is 96% bewus van hul status. Dit beteken sowat 1,1 miljoen mense wat weet hulle is MIV-positief, ontvang nie antiretrovirale behandeling nie.
Die Close the Gap-veldtog is Vrydag (13/6) in Botshabelo bekendgestel om hierdie gaping te verklein deur klem te lê op betrokkenheid en die behoud van pasiënte wat nog nie behandeling ontvang nie.
Verskeie leiers, gemeenskapsleiers, gesondheidsorgpersoneel en burgers het hande saamgespan in die bekendstelling en implementering van die veldtog. Foto: Vrystaatse Gesondheidsdepartement
“Hierdie bekendstelling is ’n oproep aan alle rolspelers in Botshabelo en regoor die Vrystaat om saam te staan in die stryd teen MIV en seker te maak niemand word agtergelaat nie,” sê Elke de Witt, Vrystaatse gesondheidswoordvoerder.
“Die veldtog gaan verskeie kritieke gebiede prioritiseer, insluitend groter toegang tot behandeling, verbeterde gesondheidsdienste vir mans, beter sorg vir kinders en adolessente met MIV, en gefokusde intervensies in provinsies met die grootste behandelingsgapings.”
In September verlede jaar het die Geesteswetenskaplike Navorsingsraad die bevindings van die Sesde Suid-Afrikaanse MIV-gedragsopname vir die Vrystaat bekendgemaak.
‘Vrystaat het in 2022 die derde hoogste voorkoms van MIV gehad’
Volgens dié opname het die Vrystaat in 2022 die derde hoogste voorkoms van MIV gehad, met 15,6% (in vergelyking met 17,0% in 2017), wat neerkom op sowat 450 000 mense wat met MIV leef.
Prof. Khangelani Zuma, hoofnavorser van die studie, het sy kommer uitgespreek dat 50,7% van mense in die Vrystaat nie van hul MIV-status bewus is nie, terwyl 59,8% wat wel bewus is, nie behandeling ontvang nie. Diegene wat behandeling ontvang, maar nie viraal onder druk is nie, is MIV-positiewe individue tussen die ouderdomme van 25 en 49.
“Om die doelwitte van die veldtog te bereik, is die departement verbind daartoe om die aantal pasiëntherhalings te verminder deur middel van meervoudige maand-voorskrifte, doeltreffendheid in gesondheidsorg te verbeter en die vraag na MIV-toetsing te verhoog,” sê De Witt.