Central SA
‘Stop elke droom, sloop elke boom – my pa is vandag oorlede’─── CORNÉ GREYVENSTEIN 13:42 Tue, 17 Jun 2025

’n Familie van kunstenaars en talle kunsliefhebbers rou oor die heengaan van ’n saggeaarde, nederige Bloemfonteinse kunstenaar.
Kobus Kotze is Maandag (16/6) oorlede nadat hy twee weke lank griep onder lede gehad het.
“My Pa is vandag oorlede.
Here! Here!
Hang ’n lap oor die maan
Stop elke droom
Sloop elke boom
Stop die wêreld ek het seergekry
Ek het vêr genoeg saam gery
Ek wil afklim
En hier by U bly”
– Hanlie Kotze, sy dogter
Suid-Afrika neem afskeid van een van sy geliefde kunstenaars. Kobus was ’n selfgeleerde impressionis wat oorspronklik van Aliwal-Noord is, maar in Bloemfontein gewoon het.
Sy loopbaan as kunstenaar het begin toe sy broer hom verf en kwaste as geskenk gegee het. Destyds het hy in sy vrye tyd begin skilder, aangesien hy ’n voltydse boer was.
Al het Kobus landbou gestudeer en self die grond bewerk in die Oos-Kaap, was dit duidelik dat sy hart by die kuns gelê het. Bedags het hy op die plaas gewerk; saans het hy sy idees – sorgvuldig aangeteken in notaboeke – met passie op doek vasgelê.
‘Storieverteller in kleur’
Hierdie lewe tussen aarde en ateljee het gelei tot ’n unieke aanslag: kuns gewortel in egtheid en gevoed deur toewyding.
Kobus was meer as net ’n kunstenaar – hy was ’n storieverteller in kleur, volgens die Robertson-kunsgalery. Hy was bekend vir sy impressionistiese landskappe, blomstudies en lewensgetroue straattonele.
Tog het sy werk nie net die landskap vasgevang nie, maar ook die siel van die Suid-Afrikaanse omgewing met warmte en helderheid.
Elke skildery het stil-stil ’n storie vertel – van seisoene wat verander, lig wat deur bome sif, strate vol lewe, en blomme in volle prag vasgevang in tyd.
Kobus se loopbaan het werklik momentum gekry met sy eerste solo-uitstalling in 1971 – die begin van ’n ryke kunsreis gevul met sukses en ’n diep band met sy bewonderaars. Langer as 55 jaar het hy sy styl vervolmaak, veral sy meesterlike gebruik van kleur.
Sy lugtonele was nooit net blou nie – hulle het gegloei, gewaai en geblink van gevoel, vertel sy dogter, Mariaan Kotze, in ’n blog. Hierdie kenmerkende hantering van lig en kleur het hom laat uitstaan, en herinner sterk aan die invloed van impressionistiese meesters soos Monet, Sisley en Van Gogh – kunstenaars wie se werk hom geïnspireer het.
Floris Kotze en sy pa Kobus voor van die 50 skilderye wat uitgestal is ter viering van sy goue jubileum as skilder. Foto: OFM Nuus
Plaaslik het hy sy inspirasie geput uit meesters soos Pieter Zienning, Gregoire Boonzaier en Hugo Naudé.
Kobus was ook ’n fyn waarnemer van die wêreld om hom. Sy kamera was dikwels die eerste stap in sy kreatiewe proses.
Hy het landskappe, bome en stedelike tonele afgeneem, wat hy later met sy eie gevoel en kulturele waardes in sy ateljee omgeskep het in emosiebelaaide kunswerke. Die eindproduk was nooit bloot ’n afdruk nie – dit was ’n herinnering, ’n gevoel, ’n oomblik vasgevang vir altyd.
Tegniese vernuf en emosionele diepte
Sy kunswerke het oor dekades hul pad gevind na private versamelings, sakeruimtes en galerye – plaaslik én internasionaal. Mense is nie net aangetrek tot sy tegniese vernuf nie, maar ook tot die emosionele diepte van sy werk.
Sy skilderye het erfstukke geword, vensters na ’n wêreld wat terselfdertyd bekend én betowerend voel.
In ’n onderhoud met Bloemfontein Courant het hy die hoop uitgespreek om positiwiteit deur sy kuns na vore te bring. Nie net dit nie, maar om ook die liefde vir die natuur aan te moedig, asook liefde vir sy Skepper.
Kobus en Joe Kotze het in November dié besonderse uitstalling gehou. Foto: Joe Kotze/Facebook
“Die gawe om te kan skep, navorsing te doen en altyd gereed om inspirasie uit die natuur te put; om alleen in my ateljee te kan skilder en ’n inkomste te verdien met iets wat meer soos ’n stokperdjie as soos werk voel – dit is die beste deel van kunstenaar wees. My hele kunsloopbaan is een groot hoogtepunt.
“Daar was vele spesiale uitstallings en feeste deur die land, waarvan dit moeilik is om een uit te sonder. Dit is baie inspirerend om ander kunstenaars te ontmoet en blywende vriendskappe oor jare te behou,” het hy gesê.
Hy het die wêreld nie net uitgebeeld soos dit is nie, maar soos dit voel in sy mooiste oomblikke. Sy nalatenskap leef voort in elke blom, elke landskap, elke lugtoneel wat hy aan ons nagelaat het, sê talle in huldeblyke op sosiale media.
Hy laat ’n land agter wat ryker is vir sy talent, en ’n wêreld wat mooier is omdat hy daar was. Sy diepgaande nalatenskap strek oor doeke én grense.
Kobus word oorleef deur sy eggenote, Joe, self ’n kunstenaar. Saam het hulle vyf kinders grootgemaak wat almal op een of ander manier met kuns verbind is.
Hul dogter, Mariaan Kotze, is ’n voltydse kunstenaar, wat haar werk in verskeie media uitdruk. Haar broer, Floris Kotze, en sy vrou, Anine, is bemarkers van kunswerke en die eienaars van die Kotze Kunsgalery in Bloemfontein.
Nalatenskap sal voortleef
Hul ander dogter, Hanlie Kotze, is self ook ’n kunstenaar en digter – volgens Mariaan “die eintlike kunstenaar”. Die enigste een in die gesin wat nie voltyds by kuns betrokke is nie, is Jaco Kotze, ’n elektriese ingenieur.
Hy is egter ook skeppend en ontwerp meubels en funksionele kunsvoorwerpe. Kobus Kotze se nalatenskap sal daarom nie net in sy kunswerke voortleef nie, maar ook in die gesin wat hy agterlaat wat sy passie vir kuns en die natuur deel.
Kobus Kotze se gedenkdiens sal plaasvind op Vrydag 20 Junie om 11:00 by die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suid, Haldonweg, Gardeniapark.
Vir vriende en familie wat nie in persoon kan bywoon nie, sal die diens ook aanlyn uitgesaai word.