Central SA
Noord-Kapenaar, nog verdagtes binnekort in hof weens beweerde bedrog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:57 Mon, 23 Jun 2025

Die Noord-Kaapse vrou wat teregstaan op aanklagte van bedrog en, alternatiewelik diefstal, sal na verwagting weer op 5 Augustus in die hof verskyn vir ’n voorverhoor, waartydens twee bykomende beskuldigdes by die rol gevoeg sal word.
Martha Rapetsoa (49) het Donderdag (19/6) in die Douglas-landdroshof verskyn en is op borgtog van R800 vrygelaat, sê ao. Nomthandazo Mnisi, provinsiale Valke-woordvoerder.
Rapetsoa is Dinsdag (17/6) deur die Valke se misdaadondersoekspan in hegtenis geneem vir beweerde ernstige handelsmisdaad. “Die verdagte was na bewering in 2012 ’n mededirekteur van ’n maatskappy genaamd Rowen Tree 60 (Edms.) Bpk. saam met twee ander direkteure.
“Die verdagte het na bewering ’n aansoek om die hernuwing van prospekteerregte teruggetrek wat reeds deur die departement van minerale hulpbronne en energie verwerk is,” sê Mnisi.
Verdagte het maatskappy weer verkoop
Die verdagte en haar mededirekteure het na bewering in 2015 besluit om die maatskappy – saam met die prospekteerregte wat teruggetrek is – vir R100 000 aan ’n Noord-Kaapse sakeman te verkoop.
“Nadat die verkoopooreenkoms egter gesluit is, maar voordat die sakeman enige betaling gemaak het, het die verdagte die maatskappy weer verkoop – hierdie keer aan die klaer – sonder om die terugtrekking van die prospekteermynregte bekend te maak.”
Volgens Mnisi het die verdagte die klaer mislei om te glo dat die mynregte steeds geldig en in goeie aansien was deur die terugtrekkingsbrief terug te hou.
Klaer het aanbod aanvaar en R1,368 miljoen betaal
Gevolglik het die klaer die aanbod aanvaar en R1,368 miljoen betaal.
“Ná hierdie betaling is R100 000 oorgeplaas na ’n persoonlike rekening wat aan een van die direkteure van Rowen Tree 60 behoort het.” Hierdie reeks beweerde bedrieglike transaksies het ’n finansiële verlies van R1,368 miljoen vir die klaer tot gevolg gehad.
Mnisi sê meer verdagtes sal binnekort in hegtenis geneem word.