Central SA
Vrystaatse hof gelas ingryping in Ngwathe─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:37 Mon, 23 Jun 2025

’n Beslissende oorwinning is behaal in ’n Vrystaatse hof toe beslis is dat die Vrystaatse regering dringend in die Ngwathe-munisipaliteit moet ingryp weens swak dienslewering op verskeie dorpe.
Die hooggeregshof in Bloemfontein het beslis Ngwathe kom nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe pligte na teenoor inwoners van Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nie.
As deel van ’n gestruktureerde hofbevel het die hof gelas dat die munisipale raad ontbind word en die provinsiale regering onmiddellik ingryp, sê Alta Pretorius, AfriForum se Mooirivier-distrikskoördineerder. “In die uitspraak is beklemtoon dat die munisipaliteit en sy raad disfunksioneel is en dat die provinsiale regering – veral die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake – nie ingegryp het soos deur die Grondwet vereis nie.”
AfriForum het namens inwoners ingegryp toe die plaaslike én provinsiale regering versuim het om hul grondwetlike verpligtinge na te kom. Foto: Afriforum
Die hof het ook genoem dat hierdie saak geregtelike toesig regverdig. Die VF Plus verwelkom intussen die uitspraak, maar waarsku dat ware herstel slegs moontlik sal wees indien bevoegdheid – nie politieke lojaliteit nie – die proses lei.
“Die party blameer Ngwathe se agteruitgang op jare se wanbestuur, gebrek aan verantwoordbaarheid en die ANC se beleid van kaderontplooiing, wat volgens hulle gelei het tot wydverspreide diensleweringsmislukkings, insluitend watertekorte en sanitasieprobleme,” sê Tammy Breedt, VF Plus-lid van die nasionale raad van provinsies.
“Die VF Plus dring daarop aan dat die intervensie ’n duidelike, deursigtige herstelplan met meetbare doelwitte, ’n deeglike vaardigheidsoudit van munisipale personeel en die verwydering van onbevoegde amptenare moet insluit.”
Herstelplan
Die party beklemtoon dat vorige provinsiale intervensies in ander munisipaliteite misluk het weens die aanstelling van ongekwalifiseerde amptenare, en waarsku dat dit nie herhaal moet word nie. Breedt sê die VF Plus verbind hom daartoe om bekwame raadslede beskikbaar te stel en sal die proses noukeurig monitor om te verseker dat inwoners nie meer die gevolge van politieke wanbestuur ly nie.
Volgens die uitspraak moet die Vrystaatse premier, die provinsiale uitvoerende raad en ander respondente nou optree in ooreenstemming met artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet en:
- ’n herstelplan implementeer om dienslewering te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;
- die Ngwathe-raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word; en
- ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.
‘’n Reuse-oorwinning vir inwoners’
Ngwathe, tesame met agt ander respondente in die saak, onder wie die premier, moet AfriForum se regskoste betaal. Pretorius bestempel die uitspraak as ’n reuse-oorwinning vir inwoners wat reeds jare lank die slagoffers is van swak dienslewering weens ongekende verval en onbevoegdheid in dié munisipaliteit.
“Inwoners van Ngwathe gaan luidens AfriForum se hofstukke onder meer gebuk onder ernstige watertekorte en -besoedeling, ’n sanitasiekrisis met rou riool wat vrylik in die strate vloei en vervalle infrastruktuur, terwyl bestuurs- en finansiële probleme en wanbestuur ten bedrae van miljoene rande ook dié munisipaliteit kenmerk.
“AfriForum het namens inwoners ingegryp toe die plaaslike én provinsiale regering versuim het om hul grondwetlike verpligtinge na te kom. Hierdie uitspraak bring nie net geregtigheid nie, maar gee ook die regsgronde vir daadwerklike optrede.
Ngwathe-munisipaliteit. Foto: infrastructurenews
“Die regering het nie meer ’n keuse nie – hulle móét ingryp,” sê Pretorius.
Die hof het beveel dat die premier sowel as die uitvoerende raad en die LUR’e vir SRTS, finansies en ekonomiese, kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake elke drie maande, onder eed en skriftelik, aan die hof verslag moet doen oor die vordering met die implementering van die bevel.
Pretorius bedank die munisipaliteit se inwoners en die organisasie Save Ngwathe wat die stryd saam met AfriForum aangepak en enduit gevoer. AfriForum versoek die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk aan die heropbou van verantwoordbare plaaslike regering.
OFM Nuus mvh