Central SA
Beskuldigde in tiener se ontvoering bly eers in aanhouding─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:01 Tue, 24 Jun 2025

’n Vrystaatse polisiebeampte wat daarvan beskuldig word dat hy ’n tiener van Bloemfontein ontvoer het, bly voorlopig in aanhouding.
Hy sal na verwagting Maandag (30/6) weer in die hof verskyn vir ’n formele borgtogaansoek.
Sers. Nzima Adoons (42) het Dinsdag (24/6) in die Bloemfonteinse landdroshof voorgekom op aanklagte van ontvoering van Kamogelo Baukudi (19), asook afpersing.
Losprys van Baukudi se familie geëis
“Ek is Sondag (22/6) deur die staat in kennis gestel dat die klagstaat gewysig is tot die effek dat die borgtogaansoek van ’n skedule 1- na ’n skedule 5-aansoek verander is. Daarvoor het ons ’n advokaat aangestel om die borgaansoek te hanteer,” sê Adriaan van Rensburg, Adoons se regsverteenwoordiger.
Adoons het Maandag vlugtig voorgekom toe ’n bykomende aanklag van afpersing bygevoeg is nadat dit in die hof aan die lig gekom het dat lospryse van Baukudi se familie geëis word. Die bedrag is onbekend.
Baukudi, ’n gr. 11-leerder aan die Martie du Plessis skool vir leerders met spesiale behoeftes in Fichardtpark, word sedert 5 Junie vermis.
Ontvoer deur mans wat hulle as polisiebeamptes voordoen
OFM Nuus het vroeër berig Baukudi is na bewering op 5 Junie ná skool ontvoer deur mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het. Hy is by die skool opgelaai deur ’n bestuurder, wat vir sy ouers werk, en hulle is na bewering gevolg en naby Vereenigingrylaan voorgekeer, het brig. Athlenda Mathe vroeër gesê.
Een van die verdagtes, geklee in ’n polisie-uniform, het Daniel Malebatso, die bestuurder, na bewering meegedeel die vermoede bestaan dat die Suzuki Ertiga, wat hy bestuur het, gebruik word om dwelms mee te vervoer.”
Mathe sê Malebatso beweer dat hy ’n sirene gehoor het voordat die bestuurder van ’n wit Toyota Hilux GD-6- dubbelkajuitbakkie, toegerus met blou “polisieligte”, hulle afgetrek het.
Die Vrystaatse premier, MaQueen Letsoha-Mathae, en brig. Motantsi Makhele in die hof. Foto: Zenande Mpame
Die verdagtes het die twee geskei en Malebatso opdrag gegee om vooruit te ry terwyl hulle saam met Kamogelo gevolg het, kwansuis na die Parkweg-polisiekantoor. Toe ’n vragmotor tussen die twee voertuie ingery het, het die Toyota Hilux verdwyn.
MJ Maboya, Vrystaatse LUR vir onderwys, het intussen ’n openbare versoek gerig om hulp met die opsporing van Baukudi. “Ons is diep bekommerd. Ons vra dat die publiek die polisie, die familie en die skool help om Kamogelo veilig huis toe te bring.”
Die departement het in samewerking met die polisie en ander belanghebbendes ’n toegewyde taakspan saamgestel om te help om die tiener op te spoor en die skuldiges aan die man te bring, sê Sibusiso Majola, onderwyswoordvoerder.